Skip to main content

As die lewe maar 'n sepie was



Jeanne Goosen is ‘n ongelooflike skrywer. Sy het ‘n gawe. Dit is seker op ‘n manier ook ‘n vloek - om so tussen die mensdom te kan staan, hulle stilletjies te bekyk en te beloer en hulle te sien presies vir wie en wat hulle is. Ek dink dit verg intelligensie om hierdie waarnemings op so ‘n treffende, dog eenvoudige en onpretensieuse wyse te kan weergee.

‘n Mens tel tog op dat Jeanne Goosen nie so baie van die mensdom hou nie. Sy verkies diere en plante. Mens kan nie stry dat die mens se innerlike fisiese werkinge net so ongelooflik as dié van diere en plante is nie. Ek kry wel die idée dat sy glo dat ons intelligensie, of sal ek eerder sê – ons sogenaamde intelligensie - ons nie verhewe laat bo diere en plante soos wat ons dink nie, maar eerder ondergeskik tot hulle stel.

Maar Jeanne Goosen het ook empatie vir mense, veral dié wat eenvoudig leef ek bloot van dag tot dag probeer “oorleef”. Sy kan hartseer, ellende, woede, rasionalisering en die mens se vermoë om homself beter te “praat”, verstaan (dink ek!). Ek bedoel, wie is ek nou om te maak of ek weet wat Jeanne Goosen dink en wat sy verstaan. Tog, is dit iets wat mens in haar stories en haar gedigte raaklees.

So kom ek toe af op ‘n klein bundel met die naam “Straataf”. Ek het gehou van die idée van iemand wat op ‘n dak sit en sy/haar buurt en sy mense van bo beskou. Kyk, daar is niks vervelig omtrent enige buurt, sy strate en dié se mense nie. Nie as jy mooi kyk nie.

Ek kon nogals verbasend baie paralelle trek tussen die bundel van kortverhale en haar onlangse digbundel “Elders aan Diens”. Ek het telkemale frases en temas in “Straataf” raakgelees wat ek nie so lank terug in Jeanne Goosen se digbundel bestudeer het nie. Dit is duidelik dat die gedagtes vir ‘n geruime tyd in haar kop gedraai het voor sy hulle in digvorm aan die wêreld bekend gestel het.

Ek het aanklank gevind by een van die stories in “Straataf”. Sy naam is "Moord is 'n video speletjie".

Hoekom? Ek kon identifiseer, ek kon my vriende, kennisse en selfs my ouma in die storie raaklees.


In die storie verwys sy na die mens se gehegtheid aan sepies en videogames en die moontlike psigologiese redes waarom ons so verknog is daaraan. Ek moet bieg, ek was op my dag ‘n kranige sepie kyker. Op universiteit het ek 5 uur by my vriendinne se woonstel gaan aanklop en het ons aangesit vir Days of our Lives. Ses uur was dit tyd vir Egoli en half 7 het die 7de Laan deuntjie begin. Twee ure van kuier in ‘n fiktiewe wêreld – 5 dae ‘n week! Sjoe!

Maar kyk! Toe Marlyna (ek is nie seker hoe mens haar naam spel nie) in ‘n paper mache demoon verander en haarself staande maak in iemand se sitkamer (met ‘n rookmasjien wat draakagtig agter haar staan en stoom afblaas) het ek geweet my Days of our Lives dae is getel. Toe M-Net oopkyk tyd van jou average Joe ontneem is, verloor ek toe ook kontak met Egoli en sy mense. 7de Laan het stelselmatig minder belangrik in my lewe begin raak toe ek dié ritueel met my sundowner-by-die-see instelling vervang het. Selfs Sondae het te jam-packed geraak vir my om die Omnibus te begin kyk.

Wat is dié fassinasie met die sepie-wêreld? Jeanne Goosen stel dit so mooi. Dáár is mense nog familie. Ja – hulle doen die allerverskriklikste dinge aan mekaar, maar hulle vergewe altyd. Dáár is niemand ooit alleen in hulle ellende nie. Mens sien nie sommer ‘n karakter wat dag na dag en aand na aand alleen sit en wegkwyn sonder dat iemand bel of kom kuier nie. Selfs die grootste tiranne en rugstekers word ondersteun op die ou end van die dag.

Bure ken mekaar, vat vir mekaar koeke, terte, dadelvingers en “moetie” as hulle siek is, hartseer is, iemand aan die dood moes afstaan of nuut is in die buurt. Ouers en hulle kinders praat met mekaar oor hulle probleme en gevoelens. Niemand word verwerp omdat hulle ‘n klad op die familienaam gesit het nie. Kriminele word gevang en tereg gestel.

Wie wil nié in so wêreld lewe nie?! Hierdie mense raak ons familie, hulle partytjies raak ons partytjies. Dink maar aan die honderde eensames wat Oujaaraand inklok om saam met die 7de Laners fees te vier.

Die waarheid is dat in ons wêreld is mense eensaam en alleen – vreemdelinge van hulle bure en selfs hulle eie familie. In ons wêreld praat ouers en hulle kinders nie meer so openlik met mekaar nie, vergewe en vergeet mense nie meer so maklik nie en is daar nie altyd geleentheid vir iemand om keer op keer uit die dumps uit op te staan en ‘n comeback te maak nie. Die werkloses bly werkloos en die vet weet – dié wat vir jare vermis is – vind nie sommer hulle pad terug huis toe nie.

Sy verwys ook in die storie na die kletsprogram op RSG: daardie mense wat laataand geselskap soek wanneer die nag hulle atoom-klein maak in ‘n donker ruimte wat eindeloos strek. Ek het al baie aande op die pad geluister na die geselsprogram. Wanneer ek die mense se stemme so bewerig deur die lugweë hoor kraak (tot hulle hul weg vind tot reg hier in my toegewasemde karretjie iewers langs ‘n highway) kry ek sommer ‘n knop in my keel.

Ons wil almal gehoor word. Ons wil almal elke nou en dan onssélf hoor. Vir hoeveel mense is daardie een oproep RSG toe die enigste keer in die dag wat hulle gehoor word - wat hulle iets sê vir iemand wat miskién wil luister?

In die storie highlight Jeanne Goosen die mens se twee uiteenlopende behoeftes aan samesyn en wraak (of meer eufemisties gestel die mens se soeke na gereg en regverdigheid). Die laasgenoemde behoefte is waar die videospeletjies inkom. Spesifiek dink ek aan daardie speletjies waar jy voetgangers met jou kar te pletter kan ry en waar jy die baddies koelbloedig kan doodskiet, -slaan of –steek en punte daarvoor score.

Alleenheid vs Vrees. Dis waarop dit op die ou end neerkom.

Die sepie en die videogame.

Daar voel ons veilig.



............................................................................................................................................................

As die lewe maar ‘n sepie was

Vroegaand hoor sy karre
indraai by die hek
Die voëls vlieg nes toe –
‘n kwetterende gesprek

Vensters helder een-een op
Kaste klap, krane oop
Oral skakel TV’s aan
Proppe plof en ys klingel saam

Almal skakel in soos een groot gesin
Sy kan hoor hoe hulle stilraak voor die storie begin
Hulle kuier elke aand in ‘n fiktiewe laan
waar die mense mekaar ken en mekaar verstaan

Dis lekker aan die ander kant
waar niemand ooit alleen beland
Dis lekker aan die ander kant

Hulle weet die storielyn is laf
maar dit maak hulle lag
Hulle hou vas aan hoe mense was
in die dae toe families nog familie was

Dis lekker aan die ander kant
niemand bly ooit kwaad vir lank
Dis lekker aan die ander kant
Tot die temalied eindig met 'n groot lawaai
en die nuus volg met 'n somber draai
Sy sit dit af en luister na die nag –
waggel deur toe (sluit hom bot), want alles is nou verdag

Dis lekker aan die ander kant
waar reg altyd verkeerd sal vang
Dis lekker aan die ander kant

Sy trek haar kamerjas styf teen haar lyf
cheers ‘n dop op haar lazy boy
dis dan wat die swart honde hul teen haar voete kom vly
en sy stok alleen die nag holrug ry

12 uur bel sy RSG
haar stem kraak suutjies deur die nag
die omroeper sny haar vinnig af
net voor sy sug “Ai, as die lewe maar ‘n sepie was”

Want dis lekker aan die ander kant
waar niemand ooit alleen beland
Dis lekker aan die ander kant
niemand bly ooit kwaad vir lank
Dis lekker aan die ander kant
waar reg altyd verkeerd sal vang

Dis lekker aan die ander kant,
...lekker aan die ander kant!


Luna Paige

Comments

  1. pas my volgende boek klaargelees. Sal hopelik teen more die woorde vir die nuwe song hê. Andre P Brink.

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Ou Karoo uiteindellik op 'n CD

Jare gelede het ek by die Dorpstraat teater gewaitress. Dit was toe Dorpstraat nog in Dorpstraat was en Hettie en Elbie nog die plek bestuur het. Hoe lekker was Dorpstraat Teater nie toe nie. Dit was een van daardie plekke waar mense net ingeval het. As jy op 'n random aan nie weet wat om te doen nie, het jy summier Dorpstraat toe gegaan. Daar was altyd iets nice aan die gang, daar was altyd lekker mense daar en die geselskap was goed. As aspirerende sangeres was dit ook wonderlik om blootstelling tot so baie professionele kunstenaars te kry. Ek kon bykans 3-4 keer 'n week 'n show kyk. Dit was 'n leerskool en dit het my droom aan die gang gehou. Ek het uiteindellik self ook by Dorpstraat teater my eerste optrede gehad. :) Op een van hierdie shifts het ek vir Rocco de Villiers ontmoet. Hy het kom optree die aand. Ek het vir hom my heel eerste CD ooit gegee en nie eintlik geweet hoekom ek dit doen of wat daaruit gaan voortspruit nie. 'n Paar maande later toe kon

Die wysheid van die Khoi

Ek is so bly ek het Elias P Nel se skryfgawe ontdek. Hierdie man weet hoe om moeiteloos in jou wêreld in te stap en ‘n blywende indruk te maak. Ek het ‘n kortverhaal bundel met die naam “Iets goeds uit Verneukpan?” ontdek en die verhale daarin vreeslik geniet. Elias Nel vertel verhale vanuit Verneukpan en omliggende areas. Hy skryf dit soos dit gepraat word en die stories lees soos ‘n laatmiddag gesprek na ‘n paar glase wyn. Dié etniese groep se humor, hul vermoë om te lag en grappies te vertel in die slegste van tye – word in sy verhale uitgelig. Jy lees en lag en lees en lag – tot jy aan die einde van die verhaal besef dat Elias Nel besig was om ‘n baie hartseer verhaal te vertel en in sommige gevalle selfs ernstige sosiale kommentaar lewer. Ek het die verhaal “die Korhaan en die Muisvoël” gekies omdat dit vol van die mooiste Khoi gelykenisse is. Hy het ‘n ou Khoi verhaal geneem en hom hervertel. Dit gaan oor ‘n jong man wat uit ‘n arm stam / kraal kom. Hy het ogies vir die dogt

...wanneer die Grim Reaper kom aanklop

Hierdie is miskien 'n somber tema vir 'n liedjie, maar nou ja. Die dood is so deel van die lewe soos wat suurstof is. Ons kan dit nie ontsnap nie. Ek het die Afrikaanse Kortverhaalboek deur Abraham de Vries opgetel en begin lees. Ek kom toe af op 'n verhaal deur Danie Botha. "Iemand by die agterdeur". Heel toevallig is ek geskeduleer om daardie week 'n onderhoud by Fine Music Radio te doen oor Storielied. Niemand anders as Danie Botha was geskeduleer om die onderhoud met my te voer nie. Ek is toe nuuskierig en lees dié verhaal! Die verhaal word vertel vanuit 'n klein seuntjie se perspektief, of eerder 'n volwasse man wat terugdink aan sy kinderjare. Hy beskryf die vrees wat hy saans ervaar wanneer hy gaan slaap. Hy vertel hoe hy teen die donker skoorsteen bo die vuurherd opkyk en bang raak vir die donker oneindigheid daarvan. Hy praat van die Pilgrim. Die man wat kom kuier en saggies aan die deurknop kom roer. Hy praat van sy moeder wat hom