Skip to main content

Die wysheid van die Khoi

Ek is so bly ek het Elias P Nel se skryfgawe ontdek. Hierdie man weet hoe om moeiteloos in jou wêreld in te stap en ‘n blywende indruk te maak. Ek het ‘n kortverhaal bundel met die naam “Iets goeds uit Verneukpan?” ontdek en die verhale daarin vreeslik geniet. Elias Nel vertel verhale vanuit Verneukpan en omliggende areas. Hy skryf dit soos dit gepraat word en die stories lees soos ‘n laatmiddag gesprek na ‘n paar glase wyn.

Dié etniese groep se humor, hul vermoë om te lag en grappies te vertel in die slegste van tye – word in sy verhale uitgelig. Jy lees en lag en lees en lag – tot jy aan die einde van die verhaal besef dat Elias Nel besig was om ‘n baie hartseer verhaal te vertel en in sommige gevalle selfs ernstige sosiale kommentaar lewer.

Ek het die verhaal “die Korhaan en die Muisvoël” gekies omdat dit vol van die mooiste Khoi gelykenisse is. Hy het ‘n ou Khoi verhaal geneem en hom hervertel. Dit gaan oor ‘n jong man wat uit ‘n arm stam / kraal kom. Hy het ogies vir die dogter van die hoof van ‘n ander, ryker kraal. Sy het ogies vir hom ook. Albei weet dat die kanse vir hom om haar vader (haar “ta”) te oortuig dat hy met haar moet trou – is bitter skraal. Sy ondersteun hom tog en moedig hom aan om braaf te wees. Sy doen saam met hom die dans van die tortelduif en vat hom aan wanneer hy lafhartig is en dit begin lyk of hy gaan tou opgooi.

Hy gaan sien een van die ou wyse manne vir raad en word die gelykenis van die korhaan en die muisvoël vertel. Een van die ander mooi gelykenisse wat ek nie in die song kon inwerk nie, was die een van die skilpad en die haas (en nee! dis nie die een wat ons almal ken nie!). Hy noem dat moeilikheid of te wel moeilikgeit na jou toe aangehardloop kom teen die spoed van ‘n haas. As die moeilikgeit jou beetkry loop hy van jou af weg so stadig soos ‘n skilpad. Jy moet oppas dat hy nie jou siel beetkry nie, want hy sal jou siel stukkie vir stukkie uitrafel so ver en stadig soos hy van jou af wegloop. Is dit nie mooi nie? ‘n Ander een wat ek wel in die song ingewerk het, is dié van die vuurrook. Ons lewens is soos vuurrook. Nettou hier, nettou weg. Daarom dat ons voluit moet leef. Daarom dat ons moet besin oor ons besluite, moet veg vir dit waarin ons glo en nie moet settle vir minder as dit wat ons die graagtse wil hê nie.

Korhaan man



Langs die Gariep het die watergees
wakker geword en haar vir hom gewys
Haar naam klink soos die wind
wat saggies deur die riete fluit

Sy hart spring bok
soos dansers wat vir reën vra
en hy weet sy is die een wat saans
langs sy karos moet slaap

Maar hy’s nie ryk nie
die randte’s yl besaai met sy vee
en hy weet daar’s g’n manier dat haar “ta”
die liefdesseën sal gee

“Is jy korhaan of is jy muisvoël man?
Gaan jy veg vir jou hart en op die kliprant staan?
Tot aan die einde van dae, nooit ophou soek
tot aan die einde van dae, my naam roep?”


Roep my! Soek my!


Haar stem val soos sagte reën
druppels om hom neer
Die pendoring in sy hart
O, die ding brand seer!

Want hy weet die korhaan
Hy kan sy keel rouskree
Dit terwyl die muisvoëlnes
vir hom ‘n nuwe maat sal gee

"Is jy korhaan of is jy muisvoël man?
Gaan jy veg vir jou hart en op die kliprant staan?
Tot aan die einde van dae, nooit ophou soek
tot aan die einde van dae, my naam roep?”


Roep my! Soek my!
Want jy moet jouself elke dag
in die oë kan kyk (sê die Oudste vir hom)
Jy is soos vuurrook, nettou hier, nettou weg
Maak seker jou tyd hier is reg!

“Is jy korhaan of is jy muisvoël man?
Gaan jy veg vir jou hart en op die kliprant staan?
Tot aan die einde van dae, nooit ophou soek
tot aan die einde van dae, my naam roep?”


Roep my !
Soek my!
Roep my!

Luna Paige

Comments

  1. So mooi! So waar! Ek soek ook nog daardie Korhaanman. Daar is hopeloos te veel Muisvoëls wat rondhang.

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Ou Karoo uiteindellik op 'n CD

Jare gelede het ek by die Dorpstraat teater gewaitress. Dit was toe Dorpstraat nog in Dorpstraat was en Hettie en Elbie nog die plek bestuur het. Hoe lekker was Dorpstraat Teater nie toe nie. Dit was een van daardie plekke waar mense net ingeval het. As jy op 'n random aan nie weet wat om te doen nie, het jy summier Dorpstraat toe gegaan. Daar was altyd iets nice aan die gang, daar was altyd lekker mense daar en die geselskap was goed. As aspirerende sangeres was dit ook wonderlik om blootstelling tot so baie professionele kunstenaars te kry. Ek kon bykans 3-4 keer 'n week 'n show kyk. Dit was 'n leerskool en dit het my droom aan die gang gehou. Ek het uiteindellik self ook by Dorpstraat teater my eerste optrede gehad. :) Op een van hierdie shifts het ek vir Rocco de Villiers ontmoet. Hy het kom optree die aand. Ek het vir hom my heel eerste CD ooit gegee en nie eintlik geweet hoekom ek dit doen of wat daaruit gaan voortspruit nie. 'n Paar maande later toe kon

...wanneer die Grim Reaper kom aanklop

Hierdie is miskien 'n somber tema vir 'n liedjie, maar nou ja. Die dood is so deel van die lewe soos wat suurstof is. Ons kan dit nie ontsnap nie. Ek het die Afrikaanse Kortverhaalboek deur Abraham de Vries opgetel en begin lees. Ek kom toe af op 'n verhaal deur Danie Botha. "Iemand by die agterdeur". Heel toevallig is ek geskeduleer om daardie week 'n onderhoud by Fine Music Radio te doen oor Storielied. Niemand anders as Danie Botha was geskeduleer om die onderhoud met my te voer nie. Ek is toe nuuskierig en lees dié verhaal! Die verhaal word vertel vanuit 'n klein seuntjie se perspektief, of eerder 'n volwasse man wat terugdink aan sy kinderjare. Hy beskryf die vrees wat hy saans ervaar wanneer hy gaan slaap. Hy vertel hoe hy teen die donker skoorsteen bo die vuurherd opkyk en bang raak vir die donker oneindigheid daarvan. Hy praat van die Pilgrim. Die man wat kom kuier en saggies aan die deurknop kom roer. Hy praat van sy moeder wat hom