Skip to main content

‘n Antie wat baie te sê het

Hierdie verhaal het my baie geraak. Snaaks genoeg het ek hom lank terug al gelees en toe al 'n song oor die storie geskryf...en min geweet dat ek amper 5 jaar later Storielied sou skep. So dit was net reg om die liedjie in die produksie repertoire in te werk. Ek het hom ook nog nooit opgeneem nie, so hy het nou uiteindellik sy plek gevind.

Engemi Ferreira het in die 80s 'n boek geskryf met die naam, "Die Jaar toe my ma begin sing het". Dit is die mooiste boek. Dit gaan oor 'n gesin wat op 'n plaas woon wat 'n diep en donkere geheim koester. Soos die verhaal uit 'n verskeidenheid van persone se perspektiewe vertel word, word die geheim oopgevlek.

Daar is 'n karakter in die boek, wat die mooiste wyshede kwytgeraak het. Sy het die tipe dinge gesê  wat my tot vandag toe bybly.

Oor pyn sê sy: "Moenie jou pyn om jou hang soos 'n kleed nie. Dit maak jou aan die aarde vas sodat jy nie meer kan vlieg nie". Hoe waar is dit nie! Vandag kan ons amper dieselfde sê oor depressie. Daar is manier om jouself te help...en indien jy nie bereid is om dit te doen nie - sal jy jouself aan die aarde vasketting en jou vryheid verloor.

Oor die liefde sê sy: " Liefde is onvoorwaardelik...dit wil niemand verander nie" (Ons almal weet dit, maar ons bly dit vergeet...Ons bly die mense vir wie ons die liefste is probeer verander).

"Ons moet elke dag ons liefde vir mekaar nuutmaak...anders sal die hart vergiftig...sal die hart versaak". (Sonder liefde is daar niks. En liefde kos werk, kos aandag, kos moeite).

Oor negatiewe denke sê sy: "Ons sal altyd leemtes soek, en ons sal altyd nuwes vind!" (Hoe waar is dit nie? As jy iets wil foutvind met 'n persoon of 'n situasie...dan sal jy. En hoe geneig is ons nie om dit te doen nie? Selfs met onsself. Ons vind dit baie makliker om ons eie swak eienskappe uit te lig, as ons goeie eienskappe. Ons vind dit moeiliker om die goeie raak te sien as wat ons dit vind om die slegte raak te sien.

Oor gedagtes sê sy: " Jou gedagtes is soos 'n boom, en as dit vrugte dra...sal almal daar wil woon".
Dit is tog so - ons het al so baie gehoor dat jou gedagtes jou woorde raak en jou woorde jou dade. Net so bepaal jou gedagtes, jou woorde en jou dade wie jou vriende is en hoeveel vriende jy het. Jou gedagtes kan jou isoleer, jou alleen laat en onaantreklik vir die samelewing maak.

Ek moes hierdie wyshede in lied formaat vasvang en skep toe my eie fiktiewe karakter, Tant Baby...


Hier is die liedjie:


TANT BABY

Die lewe is te kort om te wonder
Die lewe is om te doen
Pyn is daar om te leer
midde in die stryd

Maar my kind, moenie jou pyn
om jou hang soos 'n kleed nie
Dit maak jou aan die aarde vas
sodat jy nie meer kan vlieg nie

Dit was die woorde van Tant Baby op die plaas gewees
Sy't almal om haar met haar wysheid genees
Sy se jou gedagtes is soos 'n boom
en as hy vrugte dra - sal almal daar wil woon

Liefde is onvoorwaardelik
dit wil niemand verander nie
Ons sal altyd leemtes soek
en ons sal altyd nuwes vind

Ons moet elke dag ons liefde
vir mekaar nuutmaak
ander sal die hart vergiftig
sal die hart versaak

Dit was die woorde van Tant Baby op die plaas gewees
Sy't almal om haar met haar wysheid genees
Sy se jou gedagtes is soos 'n boom
en as hy vrugte dra - sal almal daar wil woon

Dan kom daar 'n tyd wat die sirkel
tot sy einde kom
en jy weer voor jouself moet staan
en wonder hoekom jy bestaan...

Dit was die woorde van Tant Baby op die plaas gewees
Sy't almal om haar met haar wysheid genees
Sy se jou gedagtes is soos 'n boom
en as hy vrugte dra - sal almal daar wil woon

Luna Paige

Comments

Popular posts from this blog

Ou Karoo uiteindellik op 'n CD

Jare gelede het ek by die Dorpstraat teater gewaitress. Dit was toe Dorpstraat nog in Dorpstraat was en Hettie en Elbie nog die plek bestuur het. Hoe lekker was Dorpstraat Teater nie toe nie. Dit was een van daardie plekke waar mense net ingeval het. As jy op 'n random aan nie weet wat om te doen nie, het jy summier Dorpstraat toe gegaan. Daar was altyd iets nice aan die gang, daar was altyd lekker mense daar en die geselskap was goed. As aspirerende sangeres was dit ook wonderlik om blootstelling tot so baie professionele kunstenaars te kry. Ek kon bykans 3-4 keer 'n week 'n show kyk. Dit was 'n leerskool en dit het my droom aan die gang gehou. Ek het uiteindellik self ook by Dorpstraat teater my eerste optrede gehad. :) Op een van hierdie shifts het ek vir Rocco de Villiers ontmoet. Hy het kom optree die aand. Ek het vir hom my heel eerste CD ooit gegee en nie eintlik geweet hoekom ek dit doen of wat daaruit gaan voortspruit nie. 'n Paar maande later toe kon

Die wysheid van die Khoi

Ek is so bly ek het Elias P Nel se skryfgawe ontdek. Hierdie man weet hoe om moeiteloos in jou wêreld in te stap en ‘n blywende indruk te maak. Ek het ‘n kortverhaal bundel met die naam “Iets goeds uit Verneukpan?” ontdek en die verhale daarin vreeslik geniet. Elias Nel vertel verhale vanuit Verneukpan en omliggende areas. Hy skryf dit soos dit gepraat word en die stories lees soos ‘n laatmiddag gesprek na ‘n paar glase wyn. Dié etniese groep se humor, hul vermoë om te lag en grappies te vertel in die slegste van tye – word in sy verhale uitgelig. Jy lees en lag en lees en lag – tot jy aan die einde van die verhaal besef dat Elias Nel besig was om ‘n baie hartseer verhaal te vertel en in sommige gevalle selfs ernstige sosiale kommentaar lewer. Ek het die verhaal “die Korhaan en die Muisvoël” gekies omdat dit vol van die mooiste Khoi gelykenisse is. Hy het ‘n ou Khoi verhaal geneem en hom hervertel. Dit gaan oor ‘n jong man wat uit ‘n arm stam / kraal kom. Hy het ogies vir die dogt

...wanneer die Grim Reaper kom aanklop

Hierdie is miskien 'n somber tema vir 'n liedjie, maar nou ja. Die dood is so deel van die lewe soos wat suurstof is. Ons kan dit nie ontsnap nie. Ek het die Afrikaanse Kortverhaalboek deur Abraham de Vries opgetel en begin lees. Ek kom toe af op 'n verhaal deur Danie Botha. "Iemand by die agterdeur". Heel toevallig is ek geskeduleer om daardie week 'n onderhoud by Fine Music Radio te doen oor Storielied. Niemand anders as Danie Botha was geskeduleer om die onderhoud met my te voer nie. Ek is toe nuuskierig en lees dié verhaal! Die verhaal word vertel vanuit 'n klein seuntjie se perspektief, of eerder 'n volwasse man wat terugdink aan sy kinderjare. Hy beskryf die vrees wat hy saans ervaar wanneer hy gaan slaap. Hy vertel hoe hy teen die donker skoorsteen bo die vuurherd opkyk en bang raak vir die donker oneindigheid daarvan. Hy praat van die Pilgrim. Die man wat kom kuier en saggies aan die deurknop kom roer. Hy praat van sy moeder wat hom