Skip to main content

'n Skryende skande!



Ek moes ‘n ou Franse man bietjie touwys maak oor die Kaap. Letterlik “chauffeur” speel en informasie deel daar waar hy dit versoek. Wat mens nie alles sal doen vir ‘n ou geldjie nie! Maar bly is ek, want ek was weer by die majesteuse Tafelberg op, het vir die eerste keer (en ek weet dis ‘n skande!) op Kaappunt gaan staan en by die vreesaanjaende afgronde afgetuur. Hy het beter begrip as ek getoon van waar op die kaart ons onsself bevind. Al die hoeke en draaie van die Kaap se punt het my skoon deurmekaar gehad. Kyk, ‘n rigting mens is ek glad nie. Ek is wel ‘n storie mens.


Die ou fotos in die museum en die mooi Diaz-strandjie het my verbeelding aangegryp en skielik het ek weer in spoke begin glo. “As ek ‘n hele dag op daai strandjie gaan lê – sal die ou “drifters” dalk hul weg na my toe vind en my hul stories vertel?” het ek gewonder. Elk geval, ek gaan loop nou ‘n draai.

Siende dat die man Frans is, moes ons ook gaan kuier in Franschoek en die Hugenote Museum. Ek het hom op ‘n straathoek gelos en hom sy eie gang laat gaan. En daar drentel ek toe in die oulikste boekwinkeltjie in. Ek sien dit toe as die perfekte geleentheid om nog ‘n Afrikaanse boek op te spoor vir my projek. Hulle het net een Afrikaanse rak wat maar yl besaai is met boeke (dit is tog sekerlik ook ‘n skande?!). Ek en een ou omie is beide met gretige vingers deur die klein versameling boeke.

Net daar in die beskeie boekrak vind ek toe my volgende liedjie. Catherine Willemse se “memories”: “Met ‘n diepe verlange”. Ek onthou dat iemand wraggies dié boek vir my aanbeveel het en hier sit hy! Splinternuut en slegs R40 (‘n skryende skande!).

Ek het by Traumerei gaan sit, ‘n lekker glas rooiwyn en ‘n “nummy” hoenderdis bestel en binne ‘n paar sekondes het die wêreld van Raithby se mense my opgeraap en weggevoer.

Catherine Willemse (wat reeds oorlede is) was ‘n kleurling vrou. Sy wou haar storie vertel. Sy wou vir haar nageslagte wys – “Kyk! Ons het geskiedenis, ons het kultuur, ‘n verlede – met hartseer en geluk en ons het beslis ‘n toekoms!”

As maatskaplike werker in die Kaap is baie van my kliënte kleurlinge. Ek moes al soveel kere aanhoor hoe mense sê: “…die ding met die kleuringe is dat hulle geen identiteit het nie, geen sin van waar hulle vandaan kom nie. Hulle het geen kultuur van hul eie nie”. In sommige arm buurte het ek tekens hiervan bespeur, maar ondervinding het my ook geleer dat indien jy enige nasie lank genoeg in armoede dompel, ‘n identiteitlose, kultuurlose bestaan ‘n versekerde gevolg is. Dié tendens sluit niemand uit nie. Dit is duidelik te siene in ook die groeiende aantal blanke plakkerskampe in Suid Afrika en die sosiale probleme waarmee hierdie mense presenteer.

Ek was nou die dag by ‘n rieldans kompetisie by die Paarl berg. Daar was oor die 3000 mense waarvan die meeste kleurlinge was. Daar was oor die 20 dansgroepe (van oud en jonk) wat aan die kompetisie deelgeneem het. Hulle almal is begelei deur “live bands” wat musiek maak wat nogals baie herinner aan boeremusiek.

Dié aand was ek ooggetuie – daar is kultuur. Een van musiek, ritme, gemeenskapsgees en ‘n begrip vir saamwerk. Hierdie is ‘n nasie van “survivors” wat ten spyte van armoede en ‘n gebrek aan hulpbronne en geld – altyd ‘n grappie kan maak en weet hoe om lekker te lag. Uit Catherine se “memories” kon ek dit ook raaklees, asook dat hierdie mense die aarde ken. Die aarde sorg al eeue vir hulle. Ons stadsjapies kan so baie by hulle leer. Bogger die “herbalists”! Mens kan maar net gaan draai by die oumas en die oupas wat op moeder aarde moes staatmaak toe hulle op niemand anders kon staatmaak nie.

Catherine Willemse se storie, “Met ‘n diepe verlange” is ‘n kort opsomming van blomme, kinders, diere, swaarkry en nuwejaarspartytjies. Dit is ‘n storie oor wildvreemdes wat van heinde en verre gekom het om hul te kom tuismaak tussen dié warmhartige mense. Haar storie gaan oor jongmense wat hulle “roots” gaan soek het ver oor die water, wat na oumense gekyk het en wat ‘n sin vir verantwoordelikheid teenoor hul families en gemeenskappe geken het. Dis ‘n storie van jong mense wat “against all odds” ‘n geleerdheid gaan kry het, wat ver oor die land gereis het, gaan liefde vind het en gaan huis opsit het.

Haar storie is een waar God en Aarde as noodsaaklikhede beskou word op die weg na wysheid, vrede en geluk. Dit klink vir my honderd-bedonnerd!

Ek dink dit is ‘n skryende skande dat ons nie méér sulke stories opsoek nie. Ek hoop die liedjie prikkel baie om met gierige vingers in ons argiewe en literatuur te gaan rondkrap. Ons wortels lê ook in dié stories begrawe.

Hoe jammer my tyd met die Fransman was so min. Ek sou hom so graag al dié Kaapse stories wou vertel.


Dagbreek toe!

Langs die voet van Helderberg
tussen Stellenbosch en Somerset-Wes
lê verlede geslote in hopies grond
van laslappie mense, beautiful en bont

Die kassiedraers het hul weg gebaan
uit Rusland tot in die Zandvlei
Seevaarders uit die Ooste moes die
stormwaters bestry

Khoi-Khoi prag het met Hollands getrou
Oos, Wes, Noord en Suid
het saam
hierdie mens gebou

Hulle sê die kinders moes die houtjies haal
en daar begin die mooi verhaal
van blomme pluk en veldkos eet
die reuk van moeder aarde wat mens nooit vergeet

Uintjies grawe, skilpad vang
kammakranker sap taai aan die wang
blou boetebessies en tammeletjies
melkpitte prut in soét konfytblikke

Kom die nuwejaar op die lappieskombers
soutribbetjies, en konsertinas wat blêr
Perde gesaal, trapkarre gelaai
Almal oppad na Gordon’s baai

...waar hul sing en hul dans dat die stof so staan
viool en kitaar, almal speel saam
Soos hul die hartseer van Annerdag vir oulaas groet
skree ‘n ou toppie bly “Dagbreek toe!”

Comments

  1. Luna, maak dit my nou hartseer sonder dat ek eers weet hoekom! Ek het met die naspeuring van my familiegeskiedenis agtergekom ek het 'n slawe-herkoms wat ek deel met so baie van my mede-Kapenaars. Ook meer bewus geword van 'n kultuurskat van 'n kleurvolle geskiedenis wat opgesluit is in sang en musiekmaak, die ou woordeskat wat jy ook aanraak in jou lied, in kos en nogwat. Ek wens ek kon vir al die rigtinglose tieners vir wie ek skoolgegee het wys waar hulle vandaan kom, dat hulle so baie het om op trots te wees.

    Terloops, as jy nog Afrikaanse boeke soek kan jy kyk of daar iets is op my webwerf wat jou aandag prikkel. Daar kom die heeltyd nog Afrikaanse boeke by - alles gebruikte boeke en baie daarvan lankal uit druk uit.

    http://www.books4change.co.za/afrikaanse-boeke/cat_68.html

    ReplyDelete
  2. Hello Amelia - so bly jy volg die blog. Jy weet mos ek ag jou opinie belangrik :) Ek is juis self besig om my eie stamboom te gaan ondersoek om te sien wat uitkom! Wie sou nou kon raai dat jy 'n slawe herkoms het! Ek sal jou website gaan kyk, dankie.

    ReplyDelete
  3. Ek raai nie, ek weet dat amper ons almal het daai slawe-bloed wat in ons are bruis. Van daai voorouers was great, tog weet ons maar min van hulle.

    Byv wie was Rosa, George Rex se 1st "houvrou" of de facto gesellin? Ons ken haar naam, maar weet min van haar geaardheid, vriende en familie. En ons weet waarom! Dus ook 'n skryende skande, nie waar?

    Ek skat sy was mooi en dat daar êrens darem 'n portretjie van hierdie ma van vele moet wees. Sy was ryk en belangrik, en het seer sekerlik groot parties gegooi. Daar was gedans tot "dagbreek toe", for sure!

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Ou Karoo uiteindellik op 'n CD

Jare gelede het ek by die Dorpstraat teater gewaitress. Dit was toe Dorpstraat nog in Dorpstraat was en Hettie en Elbie nog die plek bestuur het. Hoe lekker was Dorpstraat Teater nie toe nie. Dit was een van daardie plekke waar mense net ingeval het. As jy op 'n random aan nie weet wat om te doen nie, het jy summier Dorpstraat toe gegaan. Daar was altyd iets nice aan die gang, daar was altyd lekker mense daar en die geselskap was goed. As aspirerende sangeres was dit ook wonderlik om blootstelling tot so baie professionele kunstenaars te kry. Ek kon bykans 3-4 keer 'n week 'n show kyk. Dit was 'n leerskool en dit het my droom aan die gang gehou. Ek het uiteindellik self ook by Dorpstraat teater my eerste optrede gehad. :) Op een van hierdie shifts het ek vir Rocco de Villiers ontmoet. Hy het kom optree die aand. Ek het vir hom my heel eerste CD ooit gegee en nie eintlik geweet hoekom ek dit doen of wat daaruit gaan voortspruit nie. 'n Paar maande later toe kon...

Wanneer alles blote vuur is...

Ek het onlangs vir die eerste keer André P Brink se boek, die Ambassadeur gelees. Hierdie boek is in 1964 in Engels en in 1966 in Duits vertaal en gepubliseer. Ek het nog altyd van sy boeke gehou – maar ek moet sê – ek het dié een nogals baie geniet. Ek kan sien hoekom die boek so gewild was. Ek dink mense kan maklik daarmee identifiseer. En ons kan dit ook maar erken, die idee van verbode liefde het maar altyd ‘n trekkingskrag (alhoewel ons dit nie altyd goedkeur nie). Dis wanneer mens begin simpatiseer met ‘n karakter wat ons weet iets verkeerd doen en wens dat die wêreld die karakter nie moet veroordeel nie – dat mens weet die skrywer het ‘n goeie job gedoen. Hierdie verhaal gaan oor twee mans en drie vrouens. Dit gaan oor die huwelik, die ouer-kind verhouding, oor onbeantwoorde liefde, oor die onvermoë om eerlik te wees, dit gaan oor die liefdespel of eerder, spel van verraad wat gespeel word tussen mense wat nie weet hoe om vir mekaar te vertel of verduidelik wat hulle wil hê ni...