Skip to main content

'n Themesong vir Margaret


Ek het heel per ongeluk 'n uitnodiging ontvang om 'n 10 minute slot by die Woordfees te vul. Melt by die Woordfees kantoor vra toe vir my om so 2 liedjies by Margaret Bakkes se huldeblyk te sing. 2011 merk haar 80ste bestaansjaar op aarde.


Ter voorbereiding van die geleentheid het ek oor my songs gegaan en besef dit sal net eenvoudig te eienaardig wees om Engels te gaan staan en sing by die huldeblyk van 'n skrywer wat slegs in Afrikaans skryf. Dit is toe dat ek my gedagtes laat gaan oor hoe ek die geleentheid meer spesiaal vir Margaret Bakkes kan maak. En net so het die idee my getref!

Ek het besluit om 'n "themesong" vir een van haar boeke te skryf. “Hulle doen dit tog vir die movies”, het ek gedink. “Hoekom dan nou nie vir boeke nie?” Daar suiker ek toe af na Melkbosstrand se biblioteek en soek naarstigtelik na Margaret Bakkes boeke.

Op die ou end het ek 'n boek gekies uit haar vroeër jare - 'n liefdesverhaal wat afspeel iewers op 'n plaas. Dit is 'n eenvoudige storie, maar boeiend. Ek kon die boek nie neersit nie. Ek het hom sommer in 'n middag kafgedraf.

Die storie het my baie aan my ouma laat dink. Sy vertel graag stories oor die plaaslewe en die populier bos waar sy en my oupagrootjie altyd gaan heuning uithaal het. Ek kon die karakters en die omgewing maklik in my verbeeldingswêreld oproep.

Wat vir my interessant was by die huldeblyk, was toe Dr Dorothea van Zyl in haar toespraak noem dat mens uit Margaret Bakkes se skryfstyl en haar stories kan agterkom dat sy baie na aan die aarde leef, dat sy skryf oor die plekke en die mense waar sy grootgeword en later in haar lewe gewoon het. Dit was duidelik in die boek wat ek gelees het. Ek het nog altyd geglo dat nabyheid aan die aarde vir mens 'n ongeskrewe wysheid gee wat waardevol kan wees wanneer mens daaglikse probleme probeer oplos. Die natuur is vir my 'n tipe konsentraat / formule van hoe dinge behoort te werk.

“Altyd kom die somer weer” handel oor 'n jong vrou wat al so baie verlies in haar jong lewe ervaar het, dat sy nie meer glo in liefde nie. Sy wil haarself afsonder en besluit om by haar ouma op die plaas te gaan woon. Daar spandeer sy baie stilte tyd in die populierbos. Sy glo dat dit beter is om alleen te wees as om verwerp te word, teleurgestel te word of om dit waarvoor jy die liefste is, te verloor. So worstel Margaret Bakkes se hoofkarakter met verlies, eensaamheid en selfs woede vir ‘n jaar lank. Daar is duidelike paralelle tussen die karakter se groei en ontwikkeling en die gang van die natuur (seisoene) in die Populierbos.

Ek het heel toevallig in 2007 'n projek aangepak en opgevoer waarin ek juis die simbolisme van die 4 seisoene in my musiek ingewerk het, so dit was 'n tema waarmee ek gemaklik was en waarin ek glo.

Wat Dr Dorothea van Zyl ook genoem het was dat dit baie opvallend is hoe daar 'n duidelike beweging van donker na lig in baie van Margaret Bakkes se stories is. Dit is asof sy altyd 'n boodskap van hoop en "verligting" bring. Ek het dit ook in die boek wat ek gelees het, opgemerk - en besluit ek moet dit in die liedjie inwerk.

Ek moet sê - na ek haar ontmoet het - kon ek sien waarom hierdie vrou 'n huldeblyk verdien. Buiten die feit dat geen van haar manuskripte al ooit afgekeur was nie en sy verskriklik baie stories en kortverhale gepubliseer het in haar lewe, gaan sy nou op amper 80 - nog 'n boek publiseer! Sy lyk ook wraggies nie 80 jaar oud nie. Sy dra haarself steeds soos 'n sensuele vrou wat iets het om te sê, iets het om te beteken en om by te dra tot die samelewing. Uit wat van haar gesê is deur familie en vriende, is dit duidelik dat sy weet hoe om die lewe te geniet ook! Dit was werklik inspirerend om haar só van 'n afstand dop te hou.

Elk geval - daar is die liedjie toe. Ek het hom baie senuweeagtig gesing die aand. Die gehoor was gelukkig baie ontvanklik. Dr van Zyl het my so ewe aangemoedig om meer in Afrikaans te skryf. Ek het nog aan haar genoem dat ek dit heel moeilik vind. Haar antwoord was natuurlik, dat niks (wat die moeite werd is!) ooit maklik is nie. Ek het dit as 'n uitdaging gesien.

Daardie volgende dag het ek mooi gaan dink - en besluit ek wil die themesong idee verder vat. Ek was nog altyd lief vir Afrikaanse literatuur. Net daar besluit ek ek gaan songs skryf oor beautiful Afrikaanse stories. Novelle, biografieë, kortverhale, sketse, maak nie saak nie. Enige Afrikaanse storie wat my aangeraak het, wat vir my iets gegee het om oor te dink. Ek gaan storie-liedjies maak.

Ek het natuurlik op Facebook begin rondvra en oral is daar wonderlike aanbevelings gemaak oor boeke wat gelees moet word! Nodeloos om te sê sit ek nou kronies met my neus in 'n boek en voel dit of ek weer in Afrikaanse klasse op universiteit is. Ek love elke oomblik daarvan!

Aanvanklik het ek gedink ek gaan net vroue skrywers bestudeer, maar het daarteen besluit. Indien daar enige aanbevelings is van boeke geskryf deur Afrikaanse mansskrywers – bring it on!

Margaret se boek, "Altyd kom die somer weer" - is die oorsprong van dié projek, daarom begin ek my blog met haar storie-liedjie. Ek sal elke Maandag 'n nuwe blog plaas. Ek sal skryf oor die boek wat ek gelees het, wat dit vir my beteken het, die temas wat dit aanraak en hoe ek dit in my song ingewerk het. Ek wil die lesers aanmoedig om hulle gedagtes oor die boeke te deel indien hulle dit gelees het. En die wat dit nog nie gelees het nie - ek wil julle aanmoedig om dit wel te gaan lees of selfs net saam te gesels oor die temas wat bespreek word. :)

As voorsmakie van die opnames wat kom - plaas ek by elke blog ook die lirieke van die song soos geinspireer deur die boek en sy outeur.

Volgende week is dit tyd vir Ingrid Winterbach se boek, "Die boek van toeval en toeverlaat". Dit was nogals ‘n tammeletjie om ‘n song oor dié boek te skryf. Ek sien uit om dit met julle te deel!

Vir nou: Margaret Bakkes se themesong (Huldeblyk: haar 80ste jaar, Woordfees, 2011)

"Altyd kom die somer weer"

Die bos het vele stemminge
soos die bont patroon van menswees
Die somer is gedrenk in groen
wanneer die liefde bos en bloem

Kom dan 'n sissende gesuis
'n waarskuwing wat bewe
Dartelend, soos ou seer
val die somerhemel om ons neer

Populier, populier, Seisoene Bos
die son word begrawe in die herfs
Die winter kom jou nou-nou haal
los jou hart net so alleen en kaal

Gestroop lê die hoop
en kwyn weg sonder geloof
maar die bome bot suutjies weer
grys word heel, ja, grys word kleur

Populier, populier, Seisoene Bos
Bibber bome bult en blom
Deur leegtes, letsels, oud en verweer
bars uit die bodem nuwe lewe deur


Populier, populier, Seisoene bos
Die groot Katedraal
Jou hemelruite sprankel, skree:
Altyd kom die somer weer!

Altyd om die somer weer!

© Luna Paige

Comments

  1. Hi Luna
    Ek hou baie van die woorde van die lied! Baie geluk! Ek bly ongelukkig in PE en kan nie by jou shows uitkom nie. Ek is tans besig met die bemarking van my Debuut CD en glo ons sal in die nabye toekoms in die Kaap 'n draai maak. Hoop maar dan, dat daar 'n show van jou op die planke gaan wees wat ek kan bywoon! Voorspoed met die Afrikaanse liedjies. Dis 'n taal waar jy jou gevoel op soveel maniere kan uitdruk! Gaan maak ook 'n draai op my website. Dis my eerste een en ons is nog besig om so bietjie daaraan te werk! Voorspoed! Groete
    Marinus

    ReplyDelete
  2. Hello Marinus,

    Bly jy hou van die woorde! Stuur vir my daai link aan...

    :)
    Mooi bly!
    *Luna

    ReplyDelete
  3. Hi Luna
    Jammer ek stuur dit nou eers vir jou!
    My web adres is www.marinusvanrooyen.co.za. My e-pos is info@marinusvanrooyen.co.za. Hoop ek hoor van jou. Ek sal probeer om gereeld jou blog te lees om te sien watter nuwe liedjies gebore word. Voorspoed met jou projek.
    Groete
    Marinus

    ReplyDelete
  4. Thank You and I have a super give: How Much Should House Renovations Cost home repairs contractors

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Ou Karoo uiteindellik op 'n CD

Jare gelede het ek by die Dorpstraat teater gewaitress. Dit was toe Dorpstraat nog in Dorpstraat was en Hettie en Elbie nog die plek bestuur het. Hoe lekker was Dorpstraat Teater nie toe nie. Dit was een van daardie plekke waar mense net ingeval het. As jy op 'n random aan nie weet wat om te doen nie, het jy summier Dorpstraat toe gegaan. Daar was altyd iets nice aan die gang, daar was altyd lekker mense daar en die geselskap was goed. As aspirerende sangeres was dit ook wonderlik om blootstelling tot so baie professionele kunstenaars te kry. Ek kon bykans 3-4 keer 'n week 'n show kyk. Dit was 'n leerskool en dit het my droom aan die gang gehou. Ek het uiteindellik self ook by Dorpstraat teater my eerste optrede gehad. :) Op een van hierdie shifts het ek vir Rocco de Villiers ontmoet. Hy het kom optree die aand. Ek het vir hom my heel eerste CD ooit gegee en nie eintlik geweet hoekom ek dit doen of wat daaruit gaan voortspruit nie. 'n Paar maande later toe kon...

'n Skryende skande!

Ek moes ‘n ou Franse man bietjie touwys maak oor die Kaap. Letterlik “chauffeur” speel en informasie deel daar waar hy dit versoek. Wat mens nie alles sal doen vir ‘n ou geldjie nie! Maar bly is ek, want ek was weer by die majesteuse Tafelberg op, het vir die eerste keer (en ek weet dis ‘n skande!) op Kaappunt gaan staan en by die vreesaanjaende afgronde afgetuur. Hy het beter begrip as ek getoon van waar op die kaart ons onsself bevind. Al die hoeke en draaie van die Kaap se punt het my skoon deurmekaar gehad. Kyk, ‘n rigting mens is ek glad nie. Ek is wel ‘n storie mens. Die ou fotos in die museum en die mooi Diaz-strandjie het my verbeelding aangegryp en skielik het ek weer in spoke begin glo. “ As ek ‘n hele dag op daai strandjie gaan lê – sal die ou “drifters” dalk hul weg na my toe vind en my hul stories vertel? ” het ek gewonder. Elk geval, ek gaan loop nou ‘n draai. Siende dat die man Frans is, moes ons ook gaan kuier in Franschoek en die Hugenote Museum. Ek het hom op ‘n straa...

Wanneer alles blote vuur is...

Ek het onlangs vir die eerste keer André P Brink se boek, die Ambassadeur gelees. Hierdie boek is in 1964 in Engels en in 1966 in Duits vertaal en gepubliseer. Ek het nog altyd van sy boeke gehou – maar ek moet sê – ek het dié een nogals baie geniet. Ek kan sien hoekom die boek so gewild was. Ek dink mense kan maklik daarmee identifiseer. En ons kan dit ook maar erken, die idee van verbode liefde het maar altyd ‘n trekkingskrag (alhoewel ons dit nie altyd goedkeur nie). Dis wanneer mens begin simpatiseer met ‘n karakter wat ons weet iets verkeerd doen en wens dat die wêreld die karakter nie moet veroordeel nie – dat mens weet die skrywer het ‘n goeie job gedoen. Hierdie verhaal gaan oor twee mans en drie vrouens. Dit gaan oor die huwelik, die ouer-kind verhouding, oor onbeantwoorde liefde, oor die onvermoë om eerlik te wees, dit gaan oor die liefdespel of eerder, spel van verraad wat gespeel word tussen mense wat nie weet hoe om vir mekaar te vertel of verduidelik wat hulle wil hê ni...