Skip to main content

Is ons toevallig hier?


Toe ek my Facebook vriende vra om goeie Suid Afrikaanse vroue skrywers en hul boeke voor te stel, het Ingrid Winterbach se naam herhaaldelik op my “wall” te voorskyn gekom. Dit net nadat ek SPYT gaan kyk het by die Oude Libertas Teater in Stellenbosch. As ek reg verstaan is SPYT haar eerste verhoogstuk. Elk geval – “Die boek van toeval en toerverlaat” was hoog aanbeveel. Gelukkig vir my was dié boek by die biblioteek te vinde. Hoe bly is ek nie ek het die boek gelees nie. Wat ‘n wonderlike skrywer en wat ‘n wonderlike boek!



Die boek handel oor ‘n redelike eienaardige vrou wat ‘n obsessie met skulpe het. Sy werk as leksikograaf en help haar werkgewer om die Afrikaanse Woord (veral dié woorde wat lank nie meer deur die algemene Jan Rap en sy maat gebruik word nie) te dokumenteer. Baie van die woorde word op ‘n effense swartgallig-humoristiese wyse deur haar en haar kollega bespreek. Waar die woorde vandaan kom, wat hul betekenisse is en hoe hulle aansluit by haar gedagtes en beleweniswêreld, maak wat klink na vervelige gesprekke – uiters interessant en komies by tye. Hierdie boek het my geinspireer om weer my taal te herondek en te waardeer. Ons het sulke lekker woorde!


Ek het agtergekom dat die jonger generasie (dis nou die wat so 10 jaar jonger is as ekke) nie meer ‘n algemene Afrikaanse woordeskat koester nie. Ek is dikwels geskok om uit te vind dat die woorde wat ek soms as alombekend beskou en gebruik; vir ander wild vreemd is. En ek is nie eers ‘n intellectual nie! Dit laat my nogals wonder – lees jongmense nie meer Afrikaanse boeke nie? Indien nie, hoekom nie? Ek moet bieg, ek het ook vir so paar jaar Afrikaanse boeke opsy geskuif en is ‘n kranige taalmenger. Maar nou ja, dié is nou nie ‘n debat oor taal nie!


Wat “Die boek van toeval en toeverlaat” vir my spesiaal gemaak het, is die gedagtes wat voortgespruit het uit een eenvoudige gebeurtenis. Haar skulpe word gesteel en sy moet begin dink hoekom hulle vir haar so belangrik is. Sy begin tob oor evolusie en besluit om haar kennis daaroor op te knap. Terselfdertyd poog sy om die inherente menslike geloof (wat sy ook het) dat die mens belangrik en “bestem” is – met die noodgedwonge realiteit van evolusie, te versoen. Ons is tog almal ‘n bietjie so.


Ons hoop dat ons bestaan op aarde voorafbepaal is, dat ons elkeen ‘n doel – ‘n bestemming het. Ons probeer konstant sin maak uit ons tyd hier en soek “rede” om dag tot dag entoesiasties te bly voortbestaan. Hoe meer kennis sy oor evolusie opdoen, hoe meer kom sy tot die besef dat die mens bloot per toeval tot bestaan gekom het. Hierdie bewuswording laat haar twyfel in haar belangrikheid, oor haar doel op aarde en die mensgemaakte idee dat die mens verhewe is bo alle ander lewende organismes op aarde. Ek kan nogals hiermee identifiseer. Ek dink ons almal kan. Ons het almal al op een of ander stadium die term “ ….‘n gejaag na wind…” gebruik en gewonder of ons skuldig is daaraan.


Dit sal dalk vir sommige mense belaglik klink as ek sê dat die tema my aan die TV reeks “Lost” laat dink het. Jip, ek was ‘n “Lost” junkie! Maar dit is tog waaroor “Lost” gaan: ‘n Groep mense beland onverklaarbaar op ‘n eiland waar hulle moet oorleef, waar hulle moet veg vir ‘n bestaan, waar hulle vriendskap, kameraadskap en soms ook liefde vind. Ook maak hulle kennis met die donkerder sy van hulself en moet hulle op ‘n dag tot dag basis daardie wolwe-oorlog (soos deur die Indiane beskryf) met hulself voer. Hulle moet blindelings (ten spyte van ‘n gebrek aan bewyse!) vashou aan die idee dat daar ‘n rede is dat hulle op dié eiland is. Hulle begin glo dat hulle uitverkorenes is wat een of ander sielsbelangrike taak moet verrig wat van astronomiese belang vir hul eie, hul medemens en die Eiland se toekoms is. Sommige van hulle is nie lus vir die drama nie en besluit “to hell with it!” en leef maklik, doelloos (en gelukkig!) voort. Hulle hou op soek na die Waarheid. Die res raak histeries van onkunde en begin hul weg baan op die enigste ander moontlike roete beskikbaar. Hulle voer oorlog, moor mekaar uit, veg om kennis en mag en kategoriseer hulself én mekaar as goed en sleg.


Die karakter in die boek hou vas aan haar skulpe omdat sy iets van God in hulle bespeur. Die skulpe simboliseer iets oeroud- miskien die begin? Hulle simboliseer ook ‘n estetiese, skone einde. Sy hou vas aan die skulpe (dink ek) omdat sy nie die antwoorde tot haar eie vrae ken nie en sy weet dat daar iewers in die ongelooflike skulp-skepping ‘n antwoord verskuil lê. Wat ek hou van die boek is dat die skrywer vir ons wys dat dit ok is om te wonder, om te vra, om te twyfel oor die mens, oor God, oor die Begin, oor die Ewigheid en dat daar geen reg of verkeerd is nie. Wat ek ook van die boek hou, is sy einde (wat ek nie sal verklap nie!). Die genot van die boek lê in sy verloop, nie in sy slotsom nie. Net soos in die lewe.


My song gaan min of meer oor die interpretasie soos beskryf hierbo. Hoop julle hou daarvan! Dit sal interessant wees om te hoor wat julle van die boek gedink het...almal lees mos iets anders raak...


Die Skulp

Ons is almal stories sonder einde
Ons kom van tyd ver weg
So per ongeluk het ons hier kom wees
Kom swem, kom kruip, kom loop

Ons is hier, per toeval
Dwaal soekend deur die labarint
En wonder hoe dit moontlik is
dat mens bloot net so bestaan kon vind

Ek hou die skulp in my hand
Die Skepper is in sy kleur
Ek druk my oor teen sy spiraal
Hy sê ek moet my losmaak

....ek is verhaal

Maar ek bly veg
vir’n bevestiging, ‘n rede
Wat al die los drifsels
soos ‘n pool saamtrek

Ek baan my weg
op die pad van deugdelikheid
Ek wil leer hoe ‘n godsbepaalde patroon
magies funksioneer


So, ek hou die skulp in my hand
Die Skepper is in sy kleur
Ek druk my oor teen sy spiraal
Hy sê ek moet my losmaak

...ek is verhaal

“Los besit, my kind
Los die idee van behoort
Jy skree teen die wind

Raak leeg soos aan die Einde,
maar ook soos aan die Begin
Iewers in die losmaak lê die sin"

© Luna Paige

Comments

  1. Nou het jy my nuuskierig - ek sal defintief in my biblioteek 'n draai moet maak.
    En jou woorde - pragtig, diep, en (haha vir die engels): thought-provoking

    ReplyDelete
  2. Dankie vir jou! Ja, ek moet sê - die projek gee my baie plesier!

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Ou Karoo uiteindellik op 'n CD

Jare gelede het ek by die Dorpstraat teater gewaitress. Dit was toe Dorpstraat nog in Dorpstraat was en Hettie en Elbie nog die plek bestuur het. Hoe lekker was Dorpstraat Teater nie toe nie. Dit was een van daardie plekke waar mense net ingeval het. As jy op 'n random aan nie weet wat om te doen nie, het jy summier Dorpstraat toe gegaan. Daar was altyd iets nice aan die gang, daar was altyd lekker mense daar en die geselskap was goed. As aspirerende sangeres was dit ook wonderlik om blootstelling tot so baie professionele kunstenaars te kry. Ek kon bykans 3-4 keer 'n week 'n show kyk. Dit was 'n leerskool en dit het my droom aan die gang gehou. Ek het uiteindellik self ook by Dorpstraat teater my eerste optrede gehad. :) Op een van hierdie shifts het ek vir Rocco de Villiers ontmoet. Hy het kom optree die aand. Ek het vir hom my heel eerste CD ooit gegee en nie eintlik geweet hoekom ek dit doen of wat daaruit gaan voortspruit nie. 'n Paar maande later toe kon

...wanneer die Grim Reaper kom aanklop

Hierdie is miskien 'n somber tema vir 'n liedjie, maar nou ja. Die dood is so deel van die lewe soos wat suurstof is. Ons kan dit nie ontsnap nie. Ek het die Afrikaanse Kortverhaalboek deur Abraham de Vries opgetel en begin lees. Ek kom toe af op 'n verhaal deur Danie Botha. "Iemand by die agterdeur". Heel toevallig is ek geskeduleer om daardie week 'n onderhoud by Fine Music Radio te doen oor Storielied. Niemand anders as Danie Botha was geskeduleer om die onderhoud met my te voer nie. Ek is toe nuuskierig en lees dié verhaal! Die verhaal word vertel vanuit 'n klein seuntjie se perspektief, of eerder 'n volwasse man wat terugdink aan sy kinderjare. Hy beskryf die vrees wat hy saans ervaar wanneer hy gaan slaap. Hy vertel hoe hy teen die donker skoorsteen bo die vuurherd opkyk en bang raak vir die donker oneindigheid daarvan. Hy praat van die Pilgrim. Die man wat kom kuier en saggies aan die deurknop kom roer. Hy praat van sy moeder wat hom

Die wysheid van die Khoi

Ek is so bly ek het Elias P Nel se skryfgawe ontdek. Hierdie man weet hoe om moeiteloos in jou wêreld in te stap en ‘n blywende indruk te maak. Ek het ‘n kortverhaal bundel met die naam “Iets goeds uit Verneukpan?” ontdek en die verhale daarin vreeslik geniet. Elias Nel vertel verhale vanuit Verneukpan en omliggende areas. Hy skryf dit soos dit gepraat word en die stories lees soos ‘n laatmiddag gesprek na ‘n paar glase wyn. Dié etniese groep se humor, hul vermoë om te lag en grappies te vertel in die slegste van tye – word in sy verhale uitgelig. Jy lees en lag en lees en lag – tot jy aan die einde van die verhaal besef dat Elias Nel besig was om ‘n baie hartseer verhaal te vertel en in sommige gevalle selfs ernstige sosiale kommentaar lewer. Ek het die verhaal “die Korhaan en die Muisvoël” gekies omdat dit vol van die mooiste Khoi gelykenisse is. Hy het ‘n ou Khoi verhaal geneem en hom hervertel. Dit gaan oor ‘n jong man wat uit ‘n arm stam / kraal kom. Hy het ogies vir die dogt