Skip to main content

Jou Afrikaanse Song

Om in Afrikaans te sing was nog altyd vir my ‘n sensitiewe saak. Ek is Afrikaans. So gebore en so gemaak staan. Tog het ek vanaf skooldae songs in Engels geskryf. Ek kan seker baie redes hiervoor uiteensit, maar ek gaan eerder nie nou daar gaan ronddolwe nie. Een ding weet ek – ek is lief vir Afrikaans. Ek hou van die taal, ek geniet dit om stories daarin te vertel en om argumente te voer met beskrywende en kragtige woorde. Waarom dan skryf ek nie in Afrikaans nie? Ek het onlangs baie daaroor nagedink. Ek kon tot net een konklusie kom en dit is dat dit harde werk is om in Afrikaans te skryf as jy respek het vir die taal. As jy dit wil “justice” doen. Ek het nie grootgeword met Afrikaanse musiek nie – en het dus net gesien en gehoor wat op televisie en op radio geadverteer was tydens my kinderjare. Soos ek ouer geword het en meer en meer verdiep geraak het in die plaaslike musiek wêreld het ek ‘n paar pragtige Afrikaanse liedere ontdek, sowel as ongelooflike sangers en liedjieskrywers wat in Afrikaans skryf of geskryf het. Tog word ek steeds daagliks en op feestelike basis (dink gratis verhoë en feesterreine) oorval met massas Afrikaanse songs wat my diep teleurstel. En hier verwys ek nie noodwendig na die musiek as sulks nie, maar meer spesifiek na die lirieke. Ek het altyd ‘n liefde gehad vir mooi stories, goeie letterkunde en poësie (veral in Afrikaans) en het dus eerstehandse ervaring opgedoen van hoe Afrikaans kan klink, kan lees en gebruik kan word om die mees asemrowendste en indrukwekkendste landskappe en beelde te skep. Nodeloos om te sê wanneer ek sélf my hand tot die pen wend, ek gereeld myself in ‘n kopskuddende dilemma kry waar ek die lirieke oor en oor lees en dink: “O, nee Luna. Dit kan jy nou werklik waar nie as goeie lirieke bestempel nie!” Dit is nie maklik om in Afrikaans songs te skryf as jy hoë standaarde vir die taal het nie. Goeie lirieke verg goed deurdagte eenvoud, maar nie noodwendig simplisme nie. Ons is so gewoond aan soepsappige frases en ge-eikte temas in kommersiële Amerikaanse en Britse musiek, dat ons nie naastenby so krities is oor Engelse lirieke nie. Dis seker dié dat ek dit makliker vind om in Engels te skryf – alhoewel ek steeds probeer om dit so goed as moontlik te doen. Ek is wel nou op ‘n punt waar ek myself wil uitdaag om 10 goeie Afrikaanse songs te skryf. Ek gee nie om of dit op RSG gespeel gaan word nie, ek gee nie om of een van die grootste Afrikaanse musiek maatskappye dit wil vrystel of finansier nie. Al waarvoor ek omgee is dat die woorde tref, dat dit beelde by die luisteraar oproep, dat dit die luisteraar iewers binne (waar dit bekend voel), raak. Ek wil hê mense moet sin vind in die woorde. En dan natuurlik moet die musiek goed wees. Die eindproduk moet iets wees wat Afrikaanse musiek liefhebbers oor en oor wil luister. Maar waar om inspirasie te put, waar om temas vandaan te kry? Want oor die liefde, bokkies, rokkies, karre, burgers en tjoklits wil ek nie sing nie. Ek dink daar is meer interessante temas om van te kies. Daar is definitief meer as genoeg ander kunstenaars wat hou van rym met “jou” en “hou”, en “my” en “jy” (you catch my drift!). Ek is ook seker dat deur so stelling te maak, ek myself ‘n baie moeilike taak oplê en myself waarskynlik oopstel om ernstiglik gekritiseer te word (eish!). Ek besef dat net omdat ek wil nie noodwendig beteken dat ek dit gaan regkry nie! Maar wie nie waag nie wen nie. En: ek het ‘n idée! Ek het ‘n bron van inspirasie gevind waaruit ek glo ek 10 temas sal kan put. Dié bron sal ek in my volgende blog bespreek. Wat ek in vandag se blog wil aanraak – is jou Afrikaanse song. Ek weet dit is ‘n subjektiewe onderwerp en dat geen een se opinie meer werd is as ‘n ander s’n nie. Maar ek weet ook dat daar sekere liedere is wat uitstaan bo die res, wat impak gehad het en steeds het op ‘n universele vlak. Ek weet daar is sekere songs wat ‘n snaar raak by talle mense ten spyte van hul verskillende oortuiginge, portuurgroepe en sosiale kringe. Ek wil graag by lesers hoor wat hulle opinies oor hierdie songs is en hoekom hulle dink hierdie songs so impak het. So stuur asb julle kommentaar aan. Dit sal dien as my projek navorsing en ook sommer net as ruimte vir ‘n gesprek – om ons aan die dink te hou oor dit waarna ons luister en hoekom ons dit luister – en hoe dit inskakel by die tyd en plek waar ons onsself vandag bevind. Dis sommer dan ook ‘n plek om die mooiste Afrikaanse songs met mekaar te deel. Ek is baie opgewonde oor die Afrikaanse projek en waarheen hy moontlik kan groei. Ek hoop dat dit baie gesprekke en deelname gaan ontlok soos ek liedjie vir liedjie (en die stories agter hulle) met julle deel. ***Luna Paige http://www.lunapaige.com

Comments

  1. Ek kom agter ek ken maar baie min Afrikaanse songs, wat nog te se great songs.

    Hier is drie van my gunsteling Afrikaanse songs. Nommer een is deur Luna:

    1. "Ek onthou" - verwerking van "Vaal Ou Karooland". Moet op video gekyk word. Incredibly beautiful. (Al rym heelwat woorde met "ou").

    Ek hou somtyds van Koos du Plessis se lirieke omdat hy gereeld regkry om met eenvoudige woorde sterk begrippe en beelde oor te dra.

    2. "Wie weet" ook bekend as "Neem my saam": Temalied van TV reeks "Jopie Adam". Bring herinneringe terug wat ek gehad het toe ek op skool was.

    3. "Nes ek wil": "As my wrak nog kan loop en die pad is oop, en die lewe le alkant te koop, en ek't 'n rand of tien en wie weet, miskien, nog 'n paar hier of daar, wie weet waar..." Gaan oor 'n gevoel van vryheid ten spyte van, of miskien as gevolg van, gebrek aan vaste werk en geld.

    Stefan

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Ou Karoo uiteindellik op 'n CD

Jare gelede het ek by die Dorpstraat teater gewaitress. Dit was toe Dorpstraat nog in Dorpstraat was en Hettie en Elbie nog die plek bestuur het. Hoe lekker was Dorpstraat Teater nie toe nie. Dit was een van daardie plekke waar mense net ingeval het. As jy op 'n random aan nie weet wat om te doen nie, het jy summier Dorpstraat toe gegaan. Daar was altyd iets nice aan die gang, daar was altyd lekker mense daar en die geselskap was goed. As aspirerende sangeres was dit ook wonderlik om blootstelling tot so baie professionele kunstenaars te kry. Ek kon bykans 3-4 keer 'n week 'n show kyk. Dit was 'n leerskool en dit het my droom aan die gang gehou. Ek het uiteindellik self ook by Dorpstraat teater my eerste optrede gehad. :) Op een van hierdie shifts het ek vir Rocco de Villiers ontmoet. Hy het kom optree die aand. Ek het vir hom my heel eerste CD ooit gegee en nie eintlik geweet hoekom ek dit doen of wat daaruit gaan voortspruit nie. 'n Paar maande later toe kon

...wanneer die Grim Reaper kom aanklop

Hierdie is miskien 'n somber tema vir 'n liedjie, maar nou ja. Die dood is so deel van die lewe soos wat suurstof is. Ons kan dit nie ontsnap nie. Ek het die Afrikaanse Kortverhaalboek deur Abraham de Vries opgetel en begin lees. Ek kom toe af op 'n verhaal deur Danie Botha. "Iemand by die agterdeur". Heel toevallig is ek geskeduleer om daardie week 'n onderhoud by Fine Music Radio te doen oor Storielied. Niemand anders as Danie Botha was geskeduleer om die onderhoud met my te voer nie. Ek is toe nuuskierig en lees dié verhaal! Die verhaal word vertel vanuit 'n klein seuntjie se perspektief, of eerder 'n volwasse man wat terugdink aan sy kinderjare. Hy beskryf die vrees wat hy saans ervaar wanneer hy gaan slaap. Hy vertel hoe hy teen die donker skoorsteen bo die vuurherd opkyk en bang raak vir die donker oneindigheid daarvan. Hy praat van die Pilgrim. Die man wat kom kuier en saggies aan die deurknop kom roer. Hy praat van sy moeder wat hom

Die wysheid van die Khoi

Ek is so bly ek het Elias P Nel se skryfgawe ontdek. Hierdie man weet hoe om moeiteloos in jou wêreld in te stap en ‘n blywende indruk te maak. Ek het ‘n kortverhaal bundel met die naam “Iets goeds uit Verneukpan?” ontdek en die verhale daarin vreeslik geniet. Elias Nel vertel verhale vanuit Verneukpan en omliggende areas. Hy skryf dit soos dit gepraat word en die stories lees soos ‘n laatmiddag gesprek na ‘n paar glase wyn. Dié etniese groep se humor, hul vermoë om te lag en grappies te vertel in die slegste van tye – word in sy verhale uitgelig. Jy lees en lag en lees en lag – tot jy aan die einde van die verhaal besef dat Elias Nel besig was om ‘n baie hartseer verhaal te vertel en in sommige gevalle selfs ernstige sosiale kommentaar lewer. Ek het die verhaal “die Korhaan en die Muisvoël” gekies omdat dit vol van die mooiste Khoi gelykenisse is. Hy het ‘n ou Khoi verhaal geneem en hom hervertel. Dit gaan oor ‘n jong man wat uit ‘n arm stam / kraal kom. Hy het ogies vir die dogt