
Dié etniese groep se humor, hul vermoë om te lag en grappies te vertel in die slegste van tye – word in sy verhale uitgelig. Jy lees en lag en lees en lag – tot jy aan die einde van die verhaal besef dat Elias Nel besig was om ‘n baie hartseer verhaal te vertel en in sommige gevalle selfs ernstige sosiale kommentaar lewer.
Ek het die verhaal “die Korhaan en die Muisvoël” gekies omdat dit vol van die mooiste Khoi gelykenisse is. Hy het ‘n ou Khoi verhaal geneem en hom hervertel. Dit gaan oor ‘n jong man wat uit ‘n arm stam / kraal kom. Hy het ogies vir die dogter van die hoof van ‘n ander, ryker kraal. Sy het ogies vir hom ook. Albei weet dat die kanse vir hom om haar vader (haar “ta”) te oortuig dat hy met haar moet trou – is bitter skraal. Sy ondersteun hom tog en moedig hom aan om braaf te wees. Sy doen saam met hom die dans van die tortelduif en vat hom aan wanneer hy lafhartig is en dit begin lyk of hy gaan tou opgooi.
Hy gaan sien een van die ou wyse manne vir raad en word die gelykenis van die korhaan en die muisvoël vertel. Een van die ander mooi gelykenisse wat ek nie in die song kon inwerk nie, was die een van die skilpad en die haas (en nee! dis nie die een wat ons almal ken nie!). Hy noem dat moeilikheid of te wel moeilikgeit na jou toe aangehardloop kom teen die spoed van ‘n haas. As die moeilikgeit jou beetkry loop hy van jou af weg so stadig soos ‘n skilpad. Jy moet oppas dat hy nie jou siel beetkry nie, want hy sal jou siel stukkie vir stukkie uitrafel so ver en stadig soos hy van jou af wegloop. Is dit nie mooi nie? ‘n Ander een wat ek wel in die song ingewerk het, is dié van die vuurrook. Ons lewens is soos vuurrook. Nettou hier, nettou weg. Daarom dat ons voluit moet leef. Daarom dat ons moet besin oor ons besluite, moet veg vir dit waarin ons glo en nie moet settle vir minder as dit wat ons die graagtse wil hê nie.
Korhaan man
Langs die Gariep het die watergees
wakker geword en haar vir hom gewys
Haar naam klink soos die wind
wat saggies deur die riete fluit
Sy hart spring bok
soos dansers wat vir reën vra
en hy weet sy is die een wat saans
langs sy karos moet slaap
Maar hy’s nie ryk nie
die randte’s yl besaai met sy vee
en hy weet daar’s g’n manier dat haar “ta”
die liefdesseën sal gee
“Is jy korhaan of is jy muisvoël man?
Gaan jy veg vir jou hart en op die kliprant staan?
Tot aan die einde van dae, nooit ophou soek
tot aan die einde van dae, my naam roep?”
Roep my! Soek my!
Haar stem val soos sagte reën
druppels om hom neer
Die pendoring in sy hart
O, die ding brand seer!
Want hy weet die korhaan
Hy kan sy keel rouskree
Dit terwyl die muisvoëlnes
vir hom ‘n nuwe maat sal gee
"Is jy korhaan of is jy muisvoël man?
Gaan jy veg vir jou hart en op die kliprant staan?
Tot aan die einde van dae, nooit ophou soek
tot aan die einde van dae, my naam roep?”
Roep my! Soek my!
Want jy moet jouself elke dag
in die oë kan kyk (sê die Oudste vir hom)
Jy is soos vuurrook, nettou hier, nettou weg
Maak seker jou tyd hier is reg!
“Is jy korhaan of is jy muisvoël man?
Gaan jy veg vir jou hart en op die kliprant staan?
Tot aan die einde van dae, nooit ophou soek
tot aan die einde van dae, my naam roep?”
Roep my !
Soek my!
Roep my!
Luna Paige
So mooi! So waar! Ek soek ook nog daardie Korhaanman. Daar is hopeloos te veel Muisvoëls wat rondhang.
ReplyDeleteperfect
ReplyDelete