Skip to main content

...wanneer die Grim Reaper kom aanklop



Hierdie is miskien 'n somber tema vir 'n liedjie, maar nou ja. Die dood is so deel van die lewe soos wat suurstof is. Ons kan dit nie ontsnap nie.




Ek het die Afrikaanse Kortverhaalboek deur Abraham de Vries opgetel en begin lees. Ek kom toe af op 'n verhaal deur Danie Botha. "Iemand by die agterdeur". Heel toevallig is ek geskeduleer om daardie week 'n onderhoud by Fine Music Radio te doen oor Storielied. Niemand anders as Danie Botha was geskeduleer om die onderhoud met my te voer nie. Ek is toe nuuskierig en lees dié verhaal!

Die verhaal word vertel vanuit 'n klein seuntjie se perspektief, of eerder 'n volwasse man wat terugdink aan sy kinderjare. Hy beskryf die vrees wat hy saans ervaar wanneer hy gaan slaap. Hy vertel hoe hy teen die donker skoorsteen bo die vuurherd opkyk en bang raak vir die donker oneindigheid daarvan. Hy praat van die Pilgrim. Die man wat kom kuier en saggies aan die deurknop kom roer. Hy praat van sy moeder wat hom sus met haar Wiegeliedjies en vreesloos vir die Pilgrim innooi. Ek kon nie anders as om te dink dat die Pilgrim die dood verteenwoordig nie.


Die verhaal het my onmiddellik teruggeneem na my eie kinderjare. Ek onthou hoe bewus ek toé al was van die dood. Mens is amper gefassineer deur die dood as kind. Mens raak bewus van jou eie mortaliteit en die gedagte kan jou letterlik nagmerries gee. Dankie tog, as mens klein is, kan jy hard skree en (as jy gelukkig is) sal 'n ouer ingestorm kom en vir jou sing, of vashou, of oor jou hare streel. Vir daai oomblik voel jy veilig en weet jy die dood sal jou nie uit die arms van jou ouers ruk nie. As dit maar so was in die grootmens lewe.


Toe ek met Danie Botha oor die verhaal gesels was hy heel verbaas om te hoor dat dit my interpretasie was. Om rede hy eintlik na "Liewe Jesus" verwys het as die Pilgrim. Toe voel ek so bietjie stupid. :) Maar toe ek weer daaroor dink, toe besef ek...of dit nou Liewe Jesus is of die Grim Reaper (in sy sagter, minder bose vorm) - bly die eideinde dieselfde. Jou afsterwe. Die tyd wanneer jy in vlees en bloed nie meer bestaan nie.


So kom ek toe af op die verhaal van Chris Barnard. Die verhaal se naam is "Bos". Dit handel nou weer oor 'n ou man wat sit en wag. Eintlik wag hy al sy lewe lank vir hierdie vriend van hom om by hom te kom kuier. Hy vrees die oomblik, maar eintlik wil hy ook net hê die oomblik moet aanbreek - sodat die vete kan klaarkom. Hy weet sy vriend wil hom doodmaak. Mens weet nooit hoekom nie. Mens dink by jouself - wat kon die ou man moontlik aan sy vriend gedoen het wat so erg kon wees dat sy vriend hom wil doodmaak? Soos die ou man terugdink aan al sy noue ontkominge met sy vriend Kirst kom mens agter dat die vriend die gevreesde dood is. Hoe ironies dat vriend Kirst se naam so ampertjiies Christ is. Wanneer die ou man uiteindellik met Kirst kennis maak, besef hy dat hy nie so verlig is nie, hy vind dat hy eintlik bang is, onseker is, dat hy eintlik wil vlug en dat hy nie so kalm en gereed is soos hy gedink het hy is nie. Hy is mens. En hy wil veg vir sy bestaan.


Die 2 stories het vir my so goed bymekaar gepas. Die klein seuntjie se vrees vs die ou man se vrees. Die rol wat die Moeder en die Wiegelied in die seun se vertroosting gespeel het en die eensaamheid wat die ou man daarteenoor in sy uur van nood ervaar het. Hoe wonderlik sal dit nie wees as ons so Wiegelied op ons ou dag kan hoor wanneer die groot vrees ons beetpak nie?


Danie se wiegelied verwys na die Pelgrim wat soos die wind is. Chris se karakter staan homself en was in die rivier op sy laaste uur. Die rivier word deur baie as die simbool van die lewe beskou. Die 2 stories het in my kop gefuse. Ek het die ou man kaal in die rivier sien staan. Ek het Danie se wiegelied gehoor en die wind wat deur die boomtakke swiep. Ek het die ou man sien opkyk. Die oggendson- skerp in sy oë. Die gedruis van die rivier het al hoe sagter geword. Ek het saam met die ou man die takke gesien en -hoor wieg. Ek het gesien hoe hul vir hom 'n wiegelied bring. In sy laaste uur.
................................................................................................

"Wiegelied vir 'n ou man"

Hy loop al langs die bergpaaie langs
met 'n huik oor sy kop getrek
Deur die son, wind, die reën
loop hy al baie jare ver

Sy houtstaf wys die rigting aan
na die Ewigheid
Op die bergtoppe moet hy doodstil staan
om te sien wie volgende moet saam

"Luister hoe fluister die wind deur die boompies
Heen en weer wieg hy al oor die stroompies
Doe, doe bladertjies, slapenstyd nadertjies
So sê die wind vir die blare en blommetjies"

Hy loop een aand laat oor 'n donker werf
Hy het dalk al hier verby geswerf
Hy voel 'n seun se hart wat bibber van vrees
Hy wil klop en sê: "Toemaar, dit gaan nog baie lank wees"

Dan begin 'n vrou in die huis
saggies sing
Daar is iets in haar stem
wat hom tot stilstand dwing:

"Wie roer hier aan my deur so vertroulik en sag?
Kom maar binne, dis awend, dis nag"
"Nee," sê Hy, "want ek's 'n pelgrimskind -
My lewe is swerwe, my naam is die wind"

Hy hou verby want daar's 'n ou man wat wag
Dis amper douvoordag
Die ou man ken hom goed, hulle paaie't al gekruis
die Pelgrim loop gereeld verby sy huis

Die ou man staan kaal en geboë in die stroom
Hy sien die Pelgrim en sy oë rek wyd
Die woorde kom skaars uit:
"Dis jy. Dis tyd"

"Luister hoe fluister die wind deur die boompies
Heen en weer wieg hy al oor die stroompies
Doe, doe blaartjies, slapenstyd nadertjies
So sê die wind vir die blare en blommetjies"

Die ou man vertel hoe lank hy al wag
Hy het hom dit heel anders verbeel
"Hou oud is ek Pelgrim? Kyk hoe oud is jy!
Jy, wat kom om my asem te steel..."

"Waar's die vertroosting, die vrede
waar's die geluk?
Gaan jy my nou wrintiewaar, net hier  -
uit die oggendson uit ruk..? want kyk!"

"Luister hoe fluister die wind deur die boompies
Heen en weer wieg hy al oor die stroompies
Doe, doe bladertjies, slapenstyd nader
So sê die wind vir die blare en blommetjies...

So sê die wind..."


Luna Paige
(met uittreksels uit Danie Botha se kortverhaal, wat ook aanhaal vanuit die FAK)



(Wiegelied aangehaal en effe aangepas uit Danie Botha se verhaal)

























Comments

Popular posts from this blog

Ou Karoo uiteindellik op 'n CD

Jare gelede het ek by die Dorpstraat teater gewaitress. Dit was toe Dorpstraat nog in Dorpstraat was en Hettie en Elbie nog die plek bestuur het. Hoe lekker was Dorpstraat Teater nie toe nie. Dit was een van daardie plekke waar mense net ingeval het. As jy op 'n random aan nie weet wat om te doen nie, het jy summier Dorpstraat toe gegaan. Daar was altyd iets nice aan die gang, daar was altyd lekker mense daar en die geselskap was goed. As aspirerende sangeres was dit ook wonderlik om blootstelling tot so baie professionele kunstenaars te kry. Ek kon bykans 3-4 keer 'n week 'n show kyk. Dit was 'n leerskool en dit het my droom aan die gang gehou. Ek het uiteindellik self ook by Dorpstraat teater my eerste optrede gehad. :) Op een van hierdie shifts het ek vir Rocco de Villiers ontmoet. Hy het kom optree die aand. Ek het vir hom my heel eerste CD ooit gegee en nie eintlik geweet hoekom ek dit doen of wat daaruit gaan voortspruit nie. 'n Paar maande later toe kon...

'n Skryende skande!

Ek moes ‘n ou Franse man bietjie touwys maak oor die Kaap. Letterlik “chauffeur” speel en informasie deel daar waar hy dit versoek. Wat mens nie alles sal doen vir ‘n ou geldjie nie! Maar bly is ek, want ek was weer by die majesteuse Tafelberg op, het vir die eerste keer (en ek weet dis ‘n skande!) op Kaappunt gaan staan en by die vreesaanjaende afgronde afgetuur. Hy het beter begrip as ek getoon van waar op die kaart ons onsself bevind. Al die hoeke en draaie van die Kaap se punt het my skoon deurmekaar gehad. Kyk, ‘n rigting mens is ek glad nie. Ek is wel ‘n storie mens. Die ou fotos in die museum en die mooi Diaz-strandjie het my verbeelding aangegryp en skielik het ek weer in spoke begin glo. “ As ek ‘n hele dag op daai strandjie gaan lê – sal die ou “drifters” dalk hul weg na my toe vind en my hul stories vertel? ” het ek gewonder. Elk geval, ek gaan loop nou ‘n draai. Siende dat die man Frans is, moes ons ook gaan kuier in Franschoek en die Hugenote Museum. Ek het hom op ‘n straa...

'n Themesong vir Margaret

Ek het heel per ongeluk 'n uitnodiging ontvang om 'n 10 minute slot by die Woordfees te vul. Melt by die Woordfees kantoor vra toe vir my om so 2 liedjies by Margaret Bakkes se huldeblyk te sing. 2011 merk haar 80ste bestaansjaar op aarde. Ter voorbereiding van die geleentheid het ek oor my songs gegaan en besef dit sal net eenvoudig te eienaardig wees om Engels te gaan staan en sing by die huldeblyk van 'n skrywer wat slegs in Afrikaans skryf. Dit is toe dat ek my gedagtes laat gaan oor hoe ek die geleentheid meer spesiaal vir Margaret Bakkes kan maak. En net so het die idee my getref! Ek het besluit om 'n " themesong " vir een van haar boeke te skryf. “Hulle doen dit tog vir die movies”, het ek gedink. “Hoekom dan nou nie vir boeke nie?” Daar suiker ek toe af na Melkbosstrand se biblioteek en soek naarstigtelik na Margaret Bakkes boeke. Op die ou end het ek 'n boek gekies uit haar vroeër jare - 'n liefdesverhaal wat afspeel iewers op ...