Skip to main content

Wanneer alles blote vuur is...

Ek het onlangs vir die eerste keer André P Brink se boek, die Ambassadeur gelees. Hierdie boek is in 1964 in Engels en in 1966 in Duits vertaal en gepubliseer. Ek het nog altyd van sy boeke gehou – maar ek moet sê – ek het dié een nogals baie geniet. Ek kan sien hoekom die boek so gewild was. Ek dink mense kan maklik daarmee identifiseer. En ons kan dit ook maar erken, die idee van verbode liefde het maar altyd ‘n trekkingskrag (alhoewel ons dit nie altyd goedkeur nie). Dis wanneer mens begin simpatiseer met ‘n karakter wat ons weet iets verkeerd doen en wens dat die wêreld die karakter nie moet veroordeel nie – dat mens weet die skrywer het ‘n goeie job gedoen.

Hierdie verhaal gaan oor twee mans en drie vrouens. Dit gaan oor die huwelik, die ouer-kind verhouding, oor onbeantwoorde liefde, oor die onvermoë om eerlik te wees, dit gaan oor die liefdespel of eerder, spel van verraad wat gespeel word tussen mense wat nie weet hoe om vir mekaar te vertel of verduidelik wat hulle wil hê nie. Dit gaan oor afgestompdheid, bevryding, skuld erkenning, ontnugtering, oor die losmaking van alles wat bekend is. Die karakter wat die meeste put uit die verloop van gebeure in die verhaal, is die ambassadeur self – alhoewel hy die een is wat aanvanklik verlei, misbruik en verraai word en gevolglik alles wat ander (en selfs hy aanvanklik) as belangrik beskou – verloor. Tog is hy die een wat op die ou end die ligste daarvan afkom en met nuwe oë na die lewe kyk.

Die hele verhaal speel in Parys af – ‘n minder romantiese Parys- ‘n ondergrondse, immorele en vervalle Parys – vol van faalbare menswees. ‘n Eerlike Parys. Miskien kan mens selfs sê dat Parys die simbool van die onderbewuste / die fantasie raak – die plek waar die hoofkarakter vir ‘n wyle verlore raak en sy ware self herontdek. Dit is ook ‘n plek waar ander hulself heeltemal verloor.

Elk geval – ek gaan nie te veel van my ou ideetjies deel nie. Hier is die song wat ek geskryf het na aanleiding van gebeure in die boek. Alhoewel die ware liefdesverhaal dieper in die storie verskuil lê – het ek op die meer bevrydende verhouding gefokus. Juis omdat ek glo dat elke persoon wat oor jou pad kom – of dinge tussen julle uitwerk of nie – ‘n lewenslange impak maak op wie en wat jy is en in die toekoms sal wees. Ek glo dat elke persoon aan wie jy hoe lank of kort ookal jou hart of jou verstand verloor – op daardie gegewe tyd ‘n behoefte, ‘n leemte, ‘n fantasie en selfs ‘n droom verwesenlik. Ons moet daaruit vat wat ons kan - dié misterie van twee mense wat vir ‘n wyle een word.


Die juwele van jou oë
My wêreld was nie hier, dit was nie daar nie
Daar was geen lus vir plek soek of oopkap nie
Ek was iewers buite en ek kon geen
ingang vind

Toe sien ek die juwele van jou oë
Genadeloos suiwer het hul gedraai in die lig
Daar was niks dink, niks voel nie
Dit was alle blote vuur

Ons was sondig en sonde vry
op presies dieselfde tyd
Ons het absoluut gelewe
in die skadu tussen goed en kwaad

Jy’t my die onderwêreld gewys
Grotesk getransformeer
van naakte nimf na sirkusmeester
my in agterstrate verlei

Die juwele van jou oë
Genadeloos suiwer
het gedraai in die lig
Daar was niks dink niks voel nie-
Dit was alle blote vuur

Ons het deur skares gebeur
en skouers geskuur
Die mensdom gesien vir wat dit is
Jy het my losgemaak van oordeel

So het ek saans uitgemergel, effens bang en in ekstase
vir jou gevolg teen jou spiraaltrap op
om my in jou deurmekaar kamer tuis te maak
besit van jou te neem en in jou op te los

in die juwele van jou oë
Genadeloos suiwer
Het hul gedraai in die lig
Daar was niks dink niks voel nie –
Dit was alles blote vuur
Ek het geweet ons tyd is min
Maar dit was die beste wat ek ooit sou ken
Ek’t geweet ek kan jou nie verloor nie
Want ek het jou nooit gewen

Die nag met sy glorie, rook en chaos
het jou ingesluk en my uitgespoeg
Soos ‘n uitgeworpene
maar met vrede in my gemoed

My wêreld was skielik eg
Ek was weer vol moed
Ek kon skielik alles sien en ek verstaan nou
ek is hergebore

Deur die juwele van jou oë
Genadeloos suiwer
Het hul gedraai in die lig
Daar was niks dink niks voel nie –
Dit was alles blote vuur

Dit was alles blote vuur


Luna Paige

Comments

  1. This comment has been removed by the author.

    ReplyDelete
  2. This comment has been removed by the author.

    ReplyDelete
  3. This comment has been removed by the author.

    ReplyDelete
  4. This comment has been removed by the author.

    ReplyDelete
  5. Hier is 'n gedig wat beskryf hoe ek voel oor Afrikaans.


    Afrikaans

    Afrikaans is nie ‘n produk nie, het niemand nodig om dit te bemark of te verkoop nie.
    Afrikaans is op die rak in die spens tussen ouma se ingelegte perskes en konfyt.

    Afrikaans sterf nie uit nie.
    Dis in die mieliepap, “ja nog so bietjie”, saam vars afgeroomde melk.
    Dit maak my sterk.

    Afrikaans is nie gebonde aan plek of tyd nie…
    Dit sweef vry deur die valeie van ons land, swem in ons riviere en vaar oor ons oseane.

    Afrikaans is nie ‘n gentleman nie.
    Hy vry waar hy wil, soek troos waar hy kan kry en sy tong klap soos ‘n sweep!
    “…maak gou, die dag is al verby!”

    Afrikaans soek nie ‘n huis nie.
    Sy is in die koolstoof in die kombuis, in die koffie wat al kook,
    sy vind haarself tuis waar sy gebore is.

    Afrikaans waai uit die skoorsteun.
    Mense van kleure ruik sy vele geure, proe sy soet smake.
    Dit kom uit oupa se pyp op die stoep en trek deur die lug, vry soos dit is...

    Soos ‘n tolbos wat rol kry dit nuwe vorm, gee dit nuwe lewe,
    wat deur ou hande opgetel word en mee gespog word,
    wat skree soos ‘n pasgebore!
    wat ons almal kan hoor, sien, voel, verstaan… Afrikaans.

    ReplyDelete
  6. Soos ek verstaan is Afr. die jongste taal en daar is elf verskillende dialekte. Ek praat onder korreksie. Enigiemand wat dit kan bevestig?

    ReplyDelete

Post a Comment

Popular posts from this blog

Ou Karoo uiteindellik op 'n CD

Jare gelede het ek by die Dorpstraat teater gewaitress. Dit was toe Dorpstraat nog in Dorpstraat was en Hettie en Elbie nog die plek bestuur het. Hoe lekker was Dorpstraat Teater nie toe nie. Dit was een van daardie plekke waar mense net ingeval het. As jy op 'n random aan nie weet wat om te doen nie, het jy summier Dorpstraat toe gegaan. Daar was altyd iets nice aan die gang, daar was altyd lekker mense daar en die geselskap was goed. As aspirerende sangeres was dit ook wonderlik om blootstelling tot so baie professionele kunstenaars te kry. Ek kon bykans 3-4 keer 'n week 'n show kyk. Dit was 'n leerskool en dit het my droom aan die gang gehou. Ek het uiteindellik self ook by Dorpstraat teater my eerste optrede gehad. :) Op een van hierdie shifts het ek vir Rocco de Villiers ontmoet. Hy het kom optree die aand. Ek het vir hom my heel eerste CD ooit gegee en nie eintlik geweet hoekom ek dit doen of wat daaruit gaan voortspruit nie. 'n Paar maande later toe kon...

'n Skryende skande!

Ek moes ‘n ou Franse man bietjie touwys maak oor die Kaap. Letterlik “chauffeur” speel en informasie deel daar waar hy dit versoek. Wat mens nie alles sal doen vir ‘n ou geldjie nie! Maar bly is ek, want ek was weer by die majesteuse Tafelberg op, het vir die eerste keer (en ek weet dis ‘n skande!) op Kaappunt gaan staan en by die vreesaanjaende afgronde afgetuur. Hy het beter begrip as ek getoon van waar op die kaart ons onsself bevind. Al die hoeke en draaie van die Kaap se punt het my skoon deurmekaar gehad. Kyk, ‘n rigting mens is ek glad nie. Ek is wel ‘n storie mens. Die ou fotos in die museum en die mooi Diaz-strandjie het my verbeelding aangegryp en skielik het ek weer in spoke begin glo. “ As ek ‘n hele dag op daai strandjie gaan lê – sal die ou “drifters” dalk hul weg na my toe vind en my hul stories vertel? ” het ek gewonder. Elk geval, ek gaan loop nou ‘n draai. Siende dat die man Frans is, moes ons ook gaan kuier in Franschoek en die Hugenote Museum. Ek het hom op ‘n straa...