
Dana Snyman se kortverhaal, Ouma Plaas - is net soveel my storie as wat dit syne is. Na my eerste Storielied optrede in Melkbos weet ek ook dat die storie meeste mense se storie is. Dana Snyman vertel in die storie hoe hy by sy ouma gaan kuier. Hoe hy deur die dorp ry en sien hoe dinge verander het. Uit die storie maak ek die afleiding dat sy ouma se geheue nie meer is wat dit is nie en dat dit vir hom moeilik is om haar so weerloos en "afwesig" te sien. Hy verwys na sy ouma se hande...wat koud en bleek op die laken rus - en onthou dan hoe daardie selfde hande in die verlede behendig jam potjies kon oopmaak, kon bak, kon troos. Die herrinneringe wat my ouma oproep is net soos die van 'n plaas. Dit is groot en omvangryk. Daar is reuke, geluide, gevoelens - almal wat assosieer met klomp ander klein herrinneringe en fases in my lewe. Dit is so hartseer wanneer iemand met so grootsheid - oud en klein en weerloos raak. Wanneer hulle hul essensie verloor.
My ouma het Altzheimers - 'n siekte wat mens nooit oor dink totdat een van jou familielede dit kry nie. Gebeur dit begin jy gesels en kom jy agter hoe baie mense daagliks met die siekte moet deal. Ek het die song geskryf na ek sy verhaal gelees het. Ek het die herrinneringe wat ek van my ouma en haar hande het - in die lied ingewerk. Sy is nou ook virewig.
Ouma se hande...
Hoe het dinge nie verander
vernuwe en vooruitgegaan
Hier waar tyd by haar
alewig net bly stilstaan
Dis dié dat sy bly
terughunker na haar tye op die plaas
van blomme aanry mark toe
en heuning haal saam met pa
Ek onthou die campher insmeer sessies
voor die spieël
haar houtkis vol juwele
tieroog, granaat en robyn
en die blou budgie veer
wat haar eerste kêrel vir haar gegee het
net voor hy haar hart
roekeloos gebreek het
My ouma is 'n klein, klein voëltjie
Sy het uit die boom uitgeval
Sy skuil nou onder 'n bossie
met haar hande in haar skoot gevou
...my ouma se hande
wat die wêreld buite kon hou
Die vertoonkas voel goematjies
Tretchikoff en die Bybelversies
en daai tissues wat sy sorgvuldig
by haar mou invou
Ek kuier nou en die huis
is klam en koud
sy's virrinneweer
net soos haar gemoed
Die Chinese japon,
hy hang nou swaar soos 'n las
om haar tenger lyf wat
eens op 'n tyd trots volrond was
My ouma is 'n klein, klein voëltjie
Sy het uit die boom uitgeval
Sy skuil nou onder 'n bossie
met haar hande in haar skoot gevou
...my ouma se hande
wat die wereld buite kon hou
Ek kuier kort want gesels is min
van 1 minuut tot die volgende
Ek streel oor haar hande en
ek bid dat sy weet
dat al is sy nie meer sy nie
dat niks sal verander nie
net hierdie hande van my
wat nou die wêreld buite moet hou
want my ouma is 'n klein, klein voëltjie
Sy het uit die boom uitgeval
Sy skuil nou onder 'n bossie
met haar hande in haar skoot gevou
...my ouma se hande
wat die wêreld buite kon hou
is nou sag in myne gevou
dat ék die wêreld buite kan hou
Luna Paige
Comments
Post a Comment