There was an error in this gadget

Monday, January 19, 2015

Nuwe Afrikaanse Shows vir 2015

To read about Luna's English projects - feel free to click on her other blog pages in the column on the right. This page is dedicated to her Afrikaans music and is written in Afrikaans.



Te danke aan Storielied het Luna uiteindellik begin skryf in Afrikaans. Na die bekendstelling van Storielied in 2012, twee besoeke aan Nederland in 2013 en 2014, sowel as verskeie Storielied optredes dwarsoor SA, asook by verskeie feeste - het Luna meer en meer in Afrikaans begin skryf. Die resultaat is 'n hele paar nuwe liedjies geinspireer deur Afrikaanse kortverhale, romans en gedigte - maar ook nuwe Afrikaanse liedjies wat hul oorsprong in Luna se eie ervaringe gevind het. 

In 2015 stel Luna 2 nuwe Afrikaanse musiekproduksies bekend:


Uit die Hoed - 'n versameling liedere soos beskryf hierbo


Die Ander Konsert - 6 liedjieskrywers en sangers in Afrikaans - saam met Schalk Joubert en Ronan Skillen op perkussie. Luna deel die verhoog met Pietman (die Skot) aka Peter Mitchell, Frieda van den Heever, Nick Turner, Gerald Clark en een vroue sangeres wat ons eers verrassing hou! Die produksie open by Woordfees, waarna dit KKNK toe gaan. 


Kom ondersteun gerus die nuwe musiek by die Woordfees en KKNK.







Monday, July 16, 2012

'n Lied vir ClemenGold

ClemenGold is die offisiele borg van Storielied

Om my dank aan ClemenGold te betoon, het ek besluit om vir hulle 'n lied te skryf. Nou kyk, ons is almal vertroud met DJ Opperman se gedig, Sproeireen,  waar daar verwys word na 'n naartjie...ek wou baie graag ietsie oorspronklik doen. Om 'n liedjie oor 'n naartjie te skryf is nie die maklikste ding onder die son nie hoor!

Ek maak toe maar 'n storie op...

Op 'n dag het 'n reisiger by 'n eensame vrou kom kuier. Sy kon hom ver oor die stofpad sien aangestap kom. Sy was opgewonde. Sy het hom in haar huis ontvang. By sy aankoms het hy vir haar 'n sak naartjies gebring. Daar het hulle heel aand in die kombuis gesit en gesels, naartjies geeet, en wyn gedrink.

Nodeloos om te se, was die twee aangetrokke tot mekaar en het die aand nie geeindig toe die ligte afgaan nie. Hy het haar liggaam verken...en sy kon die naartjies aan sy hande ruik.


Uiteindellik was dit tyd vir hom om te gaan, en het sy gesien hoe hy kleiner en kleiner teen die voetpad word.

So het sy elke dag ter nagedagtenis aan hom, 'n naartjie geeet. Sy het elke skyfie stadig geeet, sy het die tekstuur tussen haar vingers gevoel, sy het met haar vingers oor die sagte vlees van die skille gestreel en sy het met verlange aan haar hande geruik lank na sy die naartjie geeet het.

Op 'n dag, ontdek sy dat sy net een naartjie oor het. Sy raak beangs en hartseer en besef...sy moet 'n plan maak. Dit is tyd vir die reisiger om weer te kom kuier.

Hier dan nou, die ClemenGold liefdeslied...Breek my oop ;)


Breek my oop

Oor die voetpad kom jy
met my hart in jou hande
Jy was lank weg gewees
op reis, deur ver weg lande

Ek onthou toe jy laas hier was
Jy't 'n sak naartjies gebring
Met daai stroop soet hande van jou
Het jy my wereld omvou

Met elke dag se draai raak die sakkie leër en leër
Oordat ek een vir een oopbreek met die hoop dat ek jou nooit ooit sal vergeet
Daardie oranje liefde geur, jou lag en die oggend dou
Dis my laaste naartjie my lief, jy beter kom -kom gou!

Breek my oop
Die winterson het my gese jy kom
Breek my oop

Oor die voetpad kom jy
Ek wil jou pluk uit die son
En dans vir die reën en vra
dat die swaar wolke weer kan kom

Dat ek jou binne kan hou
Ja, dwars deur die winter
Daai stroopsoet hande van jou
en jou sakkie ClemenGold

Met elke dag se draai raak die sakkie leër en leër
Oordat ek een vir een oopbreek met die hoop dat ek jou nooit ooit sal vergeet
Daardie oranje liefde geur, jou lag en die oggend dou
Dis my laaste naartjie my lief, jy beter kom -kom gou!

Breek my oop
Die winterson het my gese jy kom
Breek my oop

Luna Paige

ClemenGold verskaf die beste naartjies aan jou plaaslike Woolworths.
Breek een oop en ervaar die oranje liefdesgeur!


Ou Karoo uiteindellik op 'n CD

Jare gelede het ek by die Dorpstraat teater gewaitress. Dit was toe Dorpstraat nog in Dorpstraat was en Hettie en Elbie nog die plek bestuur het. Hoe lekker was Dorpstraat Teater nie toe nie. Dit was een van daardie plekke waar mense net ingeval het. As jy op 'n random aan nie weet wat om te doen nie, het jy summier Dorpstraat toe gegaan. Daar was altyd iets nice aan die gang, daar was altyd lekker mense daar en die geselskap was goed.

As aspirerende sangeres was dit ook wonderlik om blootstelling tot so baie professionele kunstenaars te kry. Ek kon bykans 3-4 keer 'n week 'n show kyk. Dit was 'n leerskool en dit het my droom aan die gang gehou. Ek het uiteindellik self ook by Dorpstraat teater my eerste optrede gehad. :)

Op een van hierdie shifts het ek vir Rocco de Villiers ontmoet. Hy het kom optree die aand. Ek het vir hom my heel eerste CD ooit gegee en nie eintlik geweet hoekom ek dit doen of wat daaruit gaan voortspruit nie.

'n Paar maande later toe kontak 'n vrou met die naam Nita my, en vra of ek sal deel wees van 'n program met die naam "Die Liedjies wat ons ken II" wat op Kyknet uitgesaai word. Hulle sou vir my 'n FAK lied kies, ek  moes dan die lied verwerk en aanpas vir 'n "moderne gehoor", hulle sou betaal vir die maak van 'n musiek video en die opneem van die lied en dit sou dan uitgesaai word op Kyknet. Ek was in die sewende hemel gewees!! Rocco de Villiers het toe werk gemaak van my CD.

So kies hulle toe vir my "Ou Karo", wat deur baie seker geken word as "Vaal ou Karooland".

Ek moet bieg ek was nie 'n vreeslike Karoo liefhebber nie, en daar moes ek gaan rondtrippel in die Karoo en 'n liedjie sing oor hoe baie ek daarvan hou. Maar na daardie dag...toe IS ek lief vir die Karoo. Daar is g'n manier wat die Karoo jou nie gaan oorwen na jy 'n dag in sy veld spandeer het nie.

In die lied word daar van donderstorms gepraat en daar word van brandende sonlig gepraat. Ons het op een dag wragtag brandende sonlig EN donderstorms en reen gehad. Dit was ongelooflik. Ons het nie nodig gehad om enige argief materiaal te gaan opsoek nie. Die blomme en die plante in die veld was asemrowend mooi en ek het besef mens moet mooi kyk om hulle raak te sien. Die reuke wat uit die aarde opgeslaan het was heerlik, skerp en oorweldigend en ek het elke oomblik daarvan geniet.

Ou Karoo het vir jare op Kyknet gespeel en ek het nooit die song op CD gesit nie, omdat ek nooit 'n Afrikaanse CD vrygestel het nie...so nou is die tyd uiteindellik reg. Ons voer ook die lied op in die Storielied DVD. Hy klink effe anders, maar steeds mooi. Ek kan nie glo ek was 23 jaar oud op daai stadium nie. Dit is nou amper 10 jaar later en hy word nou eers vrygestel. So indien jy die song geniet het op Kyknet en dit graag in jou besit wil he, het die tyd aangebreek. Einde Oktober is hy joune...in 2 spesiale weergawes! :)


Ou Karoo


Ja ek onthou...

Jou brandende sonlig
en jou blomme gedrenk met dou
Jou rustige vlaktes
en jou hemel se suiwerste blou

Vaal ou Karooland
ek hou van jou
as rooidag sy glorie
oor jou ontvou

Vaal ou Karooland
as donders knal
en storms losbreek
bloei jou blomme oral

Ja ek onthou...

Jou rustige vlaktes
as rooidag sy glorie ontvou
en arende sweef deur jou hemel
en verdwyn in die blou

Vaal ou Karooland
ek hou van jou
as rooidag sy glorie
oor jou ontvou

Vaal ou Karooland
as donders knal
en storms losbreek
bloei jou blomme oral

 Ja, ek hou van jou my Ou Karoo
as donders na 'n lang droogte knal
as storms oor jou velde weer
losbreek en gousblomme bloei oral

Ja, ek hou van jou my ou Karoo
as hoog teen die rooi kant daarbo
Die aalwyn eensaam op Brandwag staan
met Ganna, Harpuis en Kambro

Vaal ou Karooland
ek hou van jou
as rooidag sy glorie
oor jou ontvou

Vaal ou Karooland
as donders knal
en storms losbreek
bloei jou blomme oral


 Ek hou tog so
van jou my Ou Karoo

Musikale verwerking deur Luna Paige
Aanpassing van FAK lirieke  deur Luna Paige
Kyk gerus die musiek video op my webwerf
www.lunapaige.com

'n Lied vir 'n lover

Lank terug toe ek en my lover in die stad gewoon het, het ek die song vir hom geskryf.
Dit was seker die eerste Afrikaanse song wat sonder moeite uit my uit gevloei het.

Mens kry daardie oggende wat die son deur die oop gordyne sypel. Partykeer speel die lig teen die mure en lyk dit kompleet soos water. Ek het een so oggend wakker geword en my geliefde gele en aanskou. Dit was stil, alhoewel ek die karre op die highway nog kon hoor. Ek kon hom ruik, ek kon sy hart voel klop, ek het hom hoor asemhaal en die lig en water patrone teen die muur en oor sy lyf was net so mooi. Ek kon nie help om die liedjie te skryf nie. Sy naam is Oggendlied.

Ek praat hier van 'n oggendlyf. Oe, dis die lekkerste lyf op aarde. Dis sag, dis warm, dis ontspanne en dit ruik mens. Dit is seker die beste ding op aarde.

Die song word ook by die Storielied DVD en live CD ingewerk.


Oggendlied


Die son breek deur die venster
op jou oggendlyf
Ek sien die hoendervleis teen jou been opkruip
as ek dit vryf

Ek voel die warm wind van jou mond
wat saggies teen my blaas
Jy slaap vas ten spyte van
die verkeer se raas

Dit is die oggendlied vir my baby
My hart skip 'n beat net vir jou
Dit is die oggendlied
wat die somer in my hart hou

Ek ruik die slaap nog aan jou vel
as ek oor jou leun
Ek rus my mond teen jou geslote oe
wanneer jy saggies kreun

Ek vind 'n leplek iewers sag
in die holte van jou arm
Ek voel die lewe in jou hart wat pols
teen my hand se palm

Dit is die oggendlied vir my baby
My hart skip 'n beat net vir jou
Dit is die oggendlied
wat die somer in my hart hou

...in my hart hou


Luna Paige

‘n Antie wat baie te sê het

Hierdie verhaal het my baie geraak. Snaaks genoeg het ek hom lank terug al gelees en toe al 'n song oor die storie geskryf...en min geweet dat ek amper 5 jaar later Storielied sou skep. So dit was net reg om die liedjie in die produksie repertoire in te werk. Ek het hom ook nog nooit opgeneem nie, so hy het nou uiteindellik sy plek gevind.

Engemi Ferreira het in die 80s 'n boek geskryf met die naam, "Die Jaar toe my ma begin sing het". Dit is die mooiste boek. Dit gaan oor 'n gesin wat op 'n plaas woon wat 'n diep en donkere geheim koester. Soos die verhaal uit 'n verskeidenheid van persone se perspektiewe vertel word, word die geheim oopgevlek.

Daar is 'n karakter in die boek, wat die mooiste wyshede kwytgeraak het. Sy het die tipe dinge gesê  wat my tot vandag toe bybly.

Oor pyn sê sy: "Moenie jou pyn om jou hang soos 'n kleed nie. Dit maak jou aan die aarde vas sodat jy nie meer kan vlieg nie". Hoe waar is dit nie! Vandag kan ons amper dieselfde sê oor depressie. Daar is manier om jouself te help...en indien jy nie bereid is om dit te doen nie - sal jy jouself aan die aarde vasketting en jou vryheid verloor.

Oor die liefde sê sy: " Liefde is onvoorwaardelik...dit wil niemand verander nie" (Ons almal weet dit, maar ons bly dit vergeet...Ons bly die mense vir wie ons die liefste is probeer verander).

"Ons moet elke dag ons liefde vir mekaar nuutmaak...anders sal die hart vergiftig...sal die hart versaak". (Sonder liefde is daar niks. En liefde kos werk, kos aandag, kos moeite).

Oor negatiewe denke sê sy: "Ons sal altyd leemtes soek, en ons sal altyd nuwes vind!" (Hoe waar is dit nie? As jy iets wil foutvind met 'n persoon of 'n situasie...dan sal jy. En hoe geneig is ons nie om dit te doen nie? Selfs met onsself. Ons vind dit baie makliker om ons eie swak eienskappe uit te lig, as ons goeie eienskappe. Ons vind dit moeiliker om die goeie raak te sien as wat ons dit vind om die slegte raak te sien.

Oor gedagtes sê sy: " Jou gedagtes is soos 'n boom, en as dit vrugte dra...sal almal daar wil woon".
Dit is tog so - ons het al so baie gehoor dat jou gedagtes jou woorde raak en jou woorde jou dade. Net so bepaal jou gedagtes, jou woorde en jou dade wie jou vriende is en hoeveel vriende jy het. Jou gedagtes kan jou isoleer, jou alleen laat en onaantreklik vir die samelewing maak.

Ek moes hierdie wyshede in lied formaat vasvang en skep toe my eie fiktiewe karakter, Tant Baby...


Hier is die liedjie:


TANT BABY

Die lewe is te kort om te wonder
Die lewe is om te doen
Pyn is daar om te leer
midde in die stryd

Maar my kind, moenie jou pyn
om jou hang soos 'n kleed nie
Dit maak jou aan die aarde vas
sodat jy nie meer kan vlieg nie

Dit was die woorde van Tant Baby op die plaas gewees
Sy't almal om haar met haar wysheid genees
Sy se jou gedagtes is soos 'n boom
en as hy vrugte dra - sal almal daar wil woon

Liefde is onvoorwaardelik
dit wil niemand verander nie
Ons sal altyd leemtes soek
en ons sal altyd nuwes vind

Ons moet elke dag ons liefde
vir mekaar nuutmaak
ander sal die hart vergiftig
sal die hart versaak

Dit was die woorde van Tant Baby op die plaas gewees
Sy't almal om haar met haar wysheid genees
Sy se jou gedagtes is soos 'n boom
en as hy vrugte dra - sal almal daar wil woon

Dan kom daar 'n tyd wat die sirkel
tot sy einde kom
en jy weer voor jouself moet staan
en wonder hoekom jy bestaan...

Dit was die woorde van Tant Baby op die plaas gewees
Sy't almal om haar met haar wysheid genees
Sy se jou gedagtes is soos 'n boom
en as hy vrugte dra - sal almal daar wil woon

Luna Paige

Thursday, September 22, 2011

...wanneer die Grim Reaper kom aanklop



Hierdie is miskien 'n somber tema vir 'n liedjie, maar nou ja. Die dood is so deel van die lewe soos wat suurstof is. Ons kan dit nie ontsnap nie.




Ek het die Afrikaanse Kortverhaalboek deur Abraham de Vries opgetel en begin lees. Ek kom toe af op 'n verhaal deur Danie Botha. "Iemand by die agterdeur". Heel toevallig is ek geskeduleer om daardie week 'n onderhoud by Fine Music Radio te doen oor Storielied. Niemand anders as Danie Botha was geskeduleer om die onderhoud met my te voer nie. Ek is toe nuuskierig en lees dié verhaal!

Die verhaal word vertel vanuit 'n klein seuntjie se perspektief, of eerder 'n volwasse man wat terugdink aan sy kinderjare. Hy beskryf die vrees wat hy saans ervaar wanneer hy gaan slaap. Hy vertel hoe hy teen die donker skoorsteen bo die vuurherd opkyk en bang raak vir die donker oneindigheid daarvan. Hy praat van die Pilgrim. Die man wat kom kuier en saggies aan die deurknop kom roer. Hy praat van sy moeder wat hom sus met haar Wiegeliedjies en vreesloos vir die Pilgrim innooi. Ek kon nie anders as om te dink dat die Pilgrim die dood verteenwoordig nie.


Die verhaal het my onmiddellik teruggeneem na my eie kinderjare. Ek onthou hoe bewus ek toé al was van die dood. Mens is amper gefassineer deur die dood as kind. Mens raak bewus van jou eie mortaliteit en die gedagte kan jou letterlik nagmerries gee. Dankie tog, as mens klein is, kan jy hard skree en (as jy gelukkig is) sal 'n ouer ingestorm kom en vir jou sing, of vashou, of oor jou hare streel. Vir daai oomblik voel jy veilig en weet jy die dood sal jou nie uit die arms van jou ouers ruk nie. As dit maar so was in die grootmens lewe.


Toe ek met Danie Botha oor die verhaal gesels was hy heel verbaas om te hoor dat dit my interpretasie was. Om rede hy eintlik na "Liewe Jesus" verwys het as die Pilgrim. Toe voel ek so bietjie stupid. :) Maar toe ek weer daaroor dink, toe besef ek...of dit nou Liewe Jesus is of die Grim Reaper (in sy sagter, minder bose vorm) - bly die eideinde dieselfde. Jou afsterwe. Die tyd wanneer jy in vlees en bloed nie meer bestaan nie.


So kom ek toe af op die verhaal van Chris Barnard. Die verhaal se naam is "Bos". Dit handel nou weer oor 'n ou man wat sit en wag. Eintlik wag hy al sy lewe lank vir hierdie vriend van hom om by hom te kom kuier. Hy vrees die oomblik, maar eintlik wil hy ook net hê die oomblik moet aanbreek - sodat die vete kan klaarkom. Hy weet sy vriend wil hom doodmaak. Mens weet nooit hoekom nie. Mens dink by jouself - wat kon die ou man moontlik aan sy vriend gedoen het wat so erg kon wees dat sy vriend hom wil doodmaak? Soos die ou man terugdink aan al sy noue ontkominge met sy vriend Kirst kom mens agter dat die vriend die gevreesde dood is. Hoe ironies dat vriend Kirst se naam so ampertjiies Christ is. Wanneer die ou man uiteindellik met Kirst kennis maak, besef hy dat hy nie so verlig is nie, hy vind dat hy eintlik bang is, onseker is, dat hy eintlik wil vlug en dat hy nie so kalm en gereed is soos hy gedink het hy is nie. Hy is mens. En hy wil veg vir sy bestaan.


Die 2 stories het vir my so goed bymekaar gepas. Die klein seuntjie se vrees vs die ou man se vrees. Die rol wat die Moeder en die Wiegelied in die seun se vertroosting gespeel het en die eensaamheid wat die ou man daarteenoor in sy uur van nood ervaar het. Hoe wonderlik sal dit nie wees as ons so Wiegelied op ons ou dag kan hoor wanneer die groot vrees ons beetpak nie?


Danie se wiegelied verwys na die Pelgrim wat soos die wind is. Chris se karakter staan homself en was in die rivier op sy laaste uur. Die rivier word deur baie as die simbool van die lewe beskou. Die 2 stories het in my kop gefuse. Ek het die ou man kaal in die rivier sien staan. Ek het Danie se wiegelied gehoor en die wind wat deur die boomtakke swiep. Ek het die ou man sien opkyk. Die oggendson- skerp in sy oë. Die gedruis van die rivier het al hoe sagter geword. Ek het saam met die ou man die takke gesien en -hoor wieg. Ek het gesien hoe hul vir hom 'n wiegelied bring. In sy laaste uur.
................................................................................................

"Wiegelied vir 'n ou man"

Hy loop al langs die bergpaaie langs
met 'n huik oor sy kop getrek
Deur die son, wind, die reën
loop hy al baie jare ver

Sy houtstaf wys die rigting aan
na die Ewigheid
Op die bergtoppe moet hy doodstil staan
om te sien wie volgende moet saam

"Luister hoe fluister die wind deur die boompies
Heen en weer wieg hy al oor die stroompies
Doe, doe bladertjies, slapenstyd nadertjies
So sê die wind vir die blare en blommetjies"

Hy loop een aand laat oor 'n donker werf
Hy het dalk al hier verby geswerf
Hy voel 'n seun se hart wat bibber van vrees
Hy wil klop en sê: "Toemaar, dit gaan nog baie lank wees"

Dan begin 'n vrou in die huis
saggies sing
Daar is iets in haar stem
wat hom tot stilstand dwing:

"Wie roer hier aan my deur so vertroulik en sag?
Kom maar binne, dis awend, dis nag"
"Nee," sê Hy, "want ek's 'n pelgrimskind -
My lewe is swerwe, my naam is die wind"

Hy hou verby want daar's 'n ou man wat wag
Dis amper douvoordag
Die ou man ken hom goed, hulle paaie't al gekruis
die Pelgrim loop gereeld verby sy huis

Die ou man staan kaal en geboë in die stroom
Hy sien die Pelgrim en sy oë rek wyd
Die woorde kom skaars uit:
"Dis jy. Dis tyd"

"Luister hoe fluister die wind deur die boompies
Heen en weer wieg hy al oor die stroompies
Doe, doe blaartjies, slapenstyd nadertjies
So sê die wind vir die blare en blommetjies"

Die ou man vertel hoe lank hy al wag
Hy het hom dit heel anders verbeel
"Hou oud is ek Pelgrim? Kyk hoe oud is jy!
Jy, wat kom om my asem te steel..."

"Waar's die vertroosting, die vrede
waar's die geluk?
Gaan jy my nou wrintiewaar, net hier  -
uit die oggendson uit ruk..? want kyk!"

"Luister hoe fluister die wind deur die boompies
Heen en weer wieg hy al oor die stroompies
Doe, doe bladertjies, slapenstyd nader
So sê die wind vir die blare en blommetjies...

So sê die wind..."


Luna Paige
(met uittreksels uit Danie Botha se kortverhaal, wat ook aanhaal vanuit die FAK)



(Wiegelied aangehaal en effe aangepas uit Danie Botha se verhaal)

























Thursday, September 15, 2011

Die wysheid van die Khoi

Ek is so bly ek het Elias P Nel se skryfgawe ontdek. Hierdie man weet hoe om moeiteloos in jou wêreld in te stap en ‘n blywende indruk te maak. Ek het ‘n kortverhaal bundel met die naam “Iets goeds uit Verneukpan?” ontdek en die verhale daarin vreeslik geniet. Elias Nel vertel verhale vanuit Verneukpan en omliggende areas. Hy skryf dit soos dit gepraat word en die stories lees soos ‘n laatmiddag gesprek na ‘n paar glase wyn.

Dié etniese groep se humor, hul vermoë om te lag en grappies te vertel in die slegste van tye – word in sy verhale uitgelig. Jy lees en lag en lees en lag – tot jy aan die einde van die verhaal besef dat Elias Nel besig was om ‘n baie hartseer verhaal te vertel en in sommige gevalle selfs ernstige sosiale kommentaar lewer.

Ek het die verhaal “die Korhaan en die Muisvoël” gekies omdat dit vol van die mooiste Khoi gelykenisse is. Hy het ‘n ou Khoi verhaal geneem en hom hervertel. Dit gaan oor ‘n jong man wat uit ‘n arm stam / kraal kom. Hy het ogies vir die dogter van die hoof van ‘n ander, ryker kraal. Sy het ogies vir hom ook. Albei weet dat die kanse vir hom om haar vader (haar “ta”) te oortuig dat hy met haar moet trou – is bitter skraal. Sy ondersteun hom tog en moedig hom aan om braaf te wees. Sy doen saam met hom die dans van die tortelduif en vat hom aan wanneer hy lafhartig is en dit begin lyk of hy gaan tou opgooi.

Hy gaan sien een van die ou wyse manne vir raad en word die gelykenis van die korhaan en die muisvoël vertel. Een van die ander mooi gelykenisse wat ek nie in die song kon inwerk nie, was die een van die skilpad en die haas (en nee! dis nie die een wat ons almal ken nie!). Hy noem dat moeilikheid of te wel moeilikgeit na jou toe aangehardloop kom teen die spoed van ‘n haas. As die moeilikgeit jou beetkry loop hy van jou af weg so stadig soos ‘n skilpad. Jy moet oppas dat hy nie jou siel beetkry nie, want hy sal jou siel stukkie vir stukkie uitrafel so ver en stadig soos hy van jou af wegloop. Is dit nie mooi nie? ‘n Ander een wat ek wel in die song ingewerk het, is dié van die vuurrook. Ons lewens is soos vuurrook. Nettou hier, nettou weg. Daarom dat ons voluit moet leef. Daarom dat ons moet besin oor ons besluite, moet veg vir dit waarin ons glo en nie moet settle vir minder as dit wat ons die graagtse wil hê nie.

Korhaan man

Langs die Gariep het die watergees
wakker geword en haar vir hom gewys
Haar naam klink soos die wind
wat saggies deur die riete fluit

Sy hart spring bok
soos dansers wat vir reën vra
en hy weet sy is die een wat saans
langs sy karos moet slaap

Maar hy’s nie ryk nie
die randte’s yl besaai met sy vee
en hy weet daar’s g’n manier dat haar “ta”
die liefdesseën sal gee

“Is jy korhaan of is jy muisvoël man?
Gaan jy veg vir jou hart en op die kliprant staan?
Tot aan die einde van dae, nooit ophou soek
tot aan die einde van dae, my naam roep?”


Roep my! Soek my!


Haar stem val soos sagte reën
druppels om hom neer
Die pendoring in sy hart
O, die ding brand seer!

Want hy weet die korhaan
Hy kan sy keel rouskree
Dit terwyl die muisvoëlnes
vir hom ‘n nuwe maat sal gee

"Is jy korhaan of is jy muisvoël man?
Gaan jy veg vir jou hart en op die kliprant staan?
Tot aan die einde van dae, nooit ophou soek
tot aan die einde van dae, my naam roep?”


Roep my! Soek my!
Want jy moet jouself elke dag
in die oë kan kyk (sê die Oudste vir hom)
Jy is soos vuurrook, nettou hier, nettou weg
Maak seker jou tyd hier is reg!

“Is jy korhaan of is jy muisvoël man?
Gaan jy veg vir jou hart en op die kliprant staan?
Tot aan die einde van dae, nooit ophou soek
tot aan die einde van dae, my naam roep?”


Roep my !
Soek my!
Roep my!

Luna Paige